Nuus 11:00
BULLETIN 2 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die brandstofprysverlagings bewys die voordele van die regering van nasionale eenheid
# Cosatu verwelkom die ontplooiing van spesialiste om die Lusikisiki-slagting te ondersoek
# En, JD Vance ontmoet Tim Walz in die Amerikaanse visepresidents-debat
# Die DA sê die aansienlike daling in brandstofpryse in Oktober is ʼn bewys van die toenemende vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie en die tasbare voordele van die regering van nasionale eenheid. Die prys van 93-oktaan petrol het gedaal met een-rand-ses-sent per liter en 95-oktaan met een-rand-14-sent. Diesel is tussen een-rand-12- en een-rand-14-sent per liter goedkoper. Die DA sê hy is bemoedig deur die belowende tekens van ekonomiese herstel, laer inflasie en dat hoop in die land besig is om te herstel.
Build One South Africa het die regering van nasionale eenheid intussen versoek om ‘n omvattende plan vir staatsbestuur aan te neem. BOSA sê die regering se eerste 100 dae was 50-persent suksesvol met ‘n gebrek aan gedeelde beleidsrigtings. Dit het aanleiding gegee tot vertragings rondom sleutelkwessies soos die BELA-wet en die Nasionale Gesondheidsversekering. BOSA se leier, Mmusi Maimane, waarsku beleidsdooiepunte en groeiende verdeeldheid bedreig die administrasie se bestendigheid:
# Cosatu in die Oos-Kaap het die ontplooiing van gespesialiseerde polisiebeamptes en hulpbronne verwelkom om die massaskietery in Lusikisiki te ondersoek. Agtien mense, insluitend 12 vroue, is die naweek in die Ngobazana-nedersetting doodgeskiet. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die skietery het die provinsie en die land geskok oor die wreedheid en straffeloosheid daarvan:
# Die Amerikaanse Republikeinse visepresidentskandidaat, JD Vance, en sy eweknie van die Demokrate, Tim Walz, het tydens die visepresidentsdebat kwessies soos immigrasie, aborsie en die 6 Januarie-aanval op Capitol Hill bespreek. Vance het visepresident Kamala Harris herhaaldelik oor grenskwessies gekritiseer terwyl Walz ontevrede was oor oudpresident Donald Trump se siening oor aborsieregte. Walz het Trump as leuenaar uitgemaak wat volgens hom waarhede verwerp waarmee hy nie saamstem nie. Dit sluit in dat Trump volhou hy het 2020 se verkiesing gewen:
# Krieket: Die voormalige Engelse speler, Dawid Malan, glo Brendon McCullum is die regte persoon om die land se witbalspan weer op die wenpad te plaas. Die Nieu-Seelander word in Januarie die hoofafrigter van al drie formate nadat hy baie goed gevaar het met die toetsspan. Volgens Malan moet McCullum die regte balans vind tussen jeug en ervaring om die witbalspanne weer op koers te kry. Hy sê Engeland het die spelers om te herbou en weer een van die beste spanne in die korter formate te word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-620-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-652-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….