Nuus 08:00
BULLETIN 2 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement is nie ingelig oor die Openbare Beskermer se Thabo Bester-verslag nie
# Cosatu is omgekrap omdat die WVF-stelsel al ‘n maand vanlyn is
# En Iran voer ’n reuse-missielaanval op Israel uit
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste sê hy is nie in kennis gestel van die Openbare Beskermer se verslag oor die veroordeelde moordenaar en verkragter, Thabo Bester, se ontsnapping in 2022 uit die Mangaung-gevangenis nie. Die verslag onthul Korrektiewe Dienste se personeel het binne weke na Bester se vals selfmoord van sy ontsnapping geweet, maar eers ses maande later ‘n strafregtelike saak aanhangig gemaak. Die komiteevoorsitter, Kgomotso Ramolobeng, sê die verslag is ook nie na die Nasionale Vergadering verwys nie.
# Cosatu sê hy is ontsteld omdat die Werkloosheidversekeringsfonds se aanlyn stelsel, uFiling, reeds ʼn maand lank vanlyn is met geen aanduiding wanneer dit weer sal werk nie. Gebruikers kry sedert 30 Augustus ʼn boodskap op die uFiling-platform dat dit weens beplande instandhouding vanlyn is. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die WVF is ʼn bydraende maatskaplike sekerheidsfonds en dis onaanvaarbaar dat dit so lank vanlyn is:
# ActionSA in Gauteng het sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan vordering met die voltooiing van die Boipatong Maatskaplik-geïntegreerde Fasiliteit in die Emfuleni-munisipaliteit. Bouwerk wat in 2017 begin is, sou na verwagting in 2026 voltooi wees, maar is vir byna vier jaar gestop. ActionSA se provinsiale voorsitter, Funzi Ngobeni, sê die fasiliteit is tans die enigste een wat beskikbaar is om bejaardes te akkommodeer en voltooiing is noodsaaklik:
# Iran het gisteraand ʼn missielaanval op Israel uitgevoer ná die dood van die Hizbollah-leier, Hassan Nasrallah en ander. Minstens een persoon is in die aanval dood en talle ander is beseer. Iran se aanval volg ure nadat Israel aangekondig het hy het ʼn beperkte grondoperasie in Libanon begin. Amerika se woordvoerder vir Nasionale Veiligheid, Jake Sullivan, sê Iran het sowat 200 ballistiese missiele op Israel afgevuur en Amerikaanse torpedojaers het Israel gehelp om dit af te skiet:
# Krieket: MI Cape Town het die Proteas se aanvangskolwer, Reeza Hendricks, vir 4,3-miljoen-rand gekoop by die SA20-spelerveiling in Kaapstad. Die Joburg Super Kings het hom vrygestel. MI Cape Town het ook Colin Ingram, Dane Piedt en die nuweling, Tristan Luus, bekom. Die verdedigende kampioene, Sunrisers Eastern Cape, het Richard Gleeson van Engeland vir 2,3-miljoen-rand gekoop, asook Okuhle Cele en nuweling Daniel Smith. Pretoria Capitals het Evin Lewis van die Wes-Indiese Eilande vir 1,5-miljoen-rand nader gehark. Die Joburg Super Kings het die dienste van Evan Jones en Wihan Lubbe gekoop teen 175-duisend-rand elk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-825-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-661-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….