Nuus 07:00
BULLETIN 2 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die regering is daartoe verbind om vinnige ekonomiese groei te bewerkstellig
# Herman Mashaba versoek Ramaphosa om die Lusikisiki-slagting aan te spreek
# En die premier van Libanon sê sy land betree ‘n gevaarlike fase
# President Cyril Ramaphosa sê die regering van nasionale eenheid is heelhartig verbind om met die hervormingsagenda voort te gaan en groter en meer inklusiewe ekonomiese groei te bereik. Hy het gisteraand in Johannesburg fase twee van die regering/sake-vennootskap bekendgestel waar hy ook met meer as 80 uitvoerende hoofde vergader het. Ramaphosa sê hulle het deur hierdie vennootskap probeer om die vaardighede, talent, kennis en welwillendheid in die land op ekonomiese groei en werkskepping te mik:
Business Unity South Africa se visepresident en Discovery Limited se uitvoerende hoof, Adrian Gore, sê intussen ekonomiese groei is die basis van alles wat die regering en sakeondernemings wil bereik. Gore sê die projek se eerste fase was ‘n groot sukses wat van die land se grootste probleme op die gebied van energie, vervoer en logistiek aangespreek het:
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba, versoek president Cyril Ramaphosa om verantwoordelikheid te aanvaar vir die Lusikisiki-massamoorde, waarin 18 mense tydens ʼn reinigingseremonie dood is. Mashaba het op Newzroom Afrika die stygende moordsyfer in die land gekritiseer. Hy het ook gevra die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, moet vervang word met die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, om die krisis aan te spreek:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap ondersoek keuses vir ou e-tolskuld nadat hy Gauteng se eerste afbetaling van 3,8-miljard-rand vir die Gauteng-snelwegverbeteringsprojek ontvang het. Die omstrede e-tolstelsel, wat in 2013 ingestel is, is in 2022 geskrap. Die Gautengse LUR vir Finansies, Lebogang Maile, het gesê vorige betalings sal nie terugbetaal word nie, aangesien e-tol voorheen wettig was. Sanral is besig om regsadvies oor die kwessie in te win.
# Libanon se eerste minister, Najib Mikati, sê sy land staan voor een van die gevaarlikste fases in sy geskiedenis. Intense Israeli-aanvalle het meer as ʼn duisend lewens geëis en tot ʼn miljoen mense verplaas. Israel het gister ’n grondaanval in die suide van Libanon begin. Hy beskryf dit as beperk in omvang en op Hizbollah gemik. Die Iran-ondersteunde militante groep steier na die dood van sy leier, Hassan Nasrallah. Mikati vra meer hulp om basiese ondersteuning aan ontheemde burgerlikes te bied.
# Krieket: Die Protea-vroue het in Dubai met 28 lopies teen Indië verloor in hul laaste opwarmingswedstryd vir die T20-wêreldbeker. Indië het in hulle 20 boulbeurte 144 vir sewe op die telbord geplaas met Richa Ghosh wat 36 bygedra het en Deepti Sharma ʼn onoorwonne 35. Ayabonga Khaka het vyf paaltjies vir Suid-Afrika platgetrek. Die Proteas kon in hulle 20 boulbeurte slegs 116 lopies aanteken. Suid-Afrika se Wêreldbeker-veldtog begin Vrydag teen die Wes-Indiese Eilande.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-485-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-660-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….