Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 October 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa skimp oor beleidsveranderings om die kragtariefverhoging van 36-persent te vermy
# Tshwane se werknemers word berispe omdat hulle die uitgesette burgemeester beledig het
# En, krieket: Indië beklink die toetsreeks teen Bangladesj 2-0
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het laat deurskemer daar kan ‘n moontlike beleidsingryping kom om Eskom se voorgestelde elektrisiteitsprysverhoging van 36-persent vir die 2025/’26-boekjaar te voorkom. Openbare voorleggings oor die tariefverhoging kan tot 1 November ingedien word. Ramokgopa het op Standard Bank se klimaatsberaad in Johannesburg gesê die opskorting van sekere regeringsbeleid kan verligting bied, veral vir lae-inkomste huishoudings:
Ons bly by klimaatsake: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel hierdie Desember en Januarie ‘n La Niña-weerverskynsel, wat bogemiddelde reën in die suidelike streek sal veroorsaak. ‘n Hoofwetenskaplike, Christien Engelbrecht, waarsku oor ‘n moontlike somerhittegolf en vra Suid-Afrikaners om genoeg vloeistof te drink om hitteverwante sterftes te voorkom. Sy waarsku dat hoë temperature gedurende hierdie tydperk regoor die land verwag kan word:
# Tshwane se stadsbestuurder, Johann Mettler, veroordeel munisipale werknemers vir hulle optrede teenoor die voormalige burgemeester, Cilliers Brink, nadat hy uit die kussings gelig is. Volgens News24 het Mettler gewaarsku indien die afstootlike gedrag tydens die raadsvergadering voortduur, sal hy gevolge instel. Brink is met ‘n mosie van wantroue uit sy posisie verwyder en ʼn vyandige skare het hom begroet toe hy vertrek. Mettler sê daar mag geen politieke konflik in die werksplek wees nie en vra almal om respek en waardigheid te betoon teenoor alle verkose amptenare.
# Krieket: Indië het die tweede toets teen Bangladesj in Kanpur met sewe paaltjies gewen en die reeks 2-0 beklink, nadat hulle die eerste kragmeting in Chennai met 280 lopies ingepalm het. Die gashere moes op die laaste dag 95 lopies in hulle tweede beurt aanteken nadat die besoekers vir 146 uitgehaal is. Jasprit Bumrah, Ravichandran Ashwin en Ravindra Jadeja het elkeen drie paaltjies ingeoes in Bangladesj se tweede beurt, en Indië het die teiken binne 18 boulbeurte bereik met drie paaltjies plat. Die twee lande speel nou ook drie T20s.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-753-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-654-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige redakteur van Die Kerkbode en leiersfiguur in die NG Kerk, dr Frits Gaum, is vandag in die Netcare-hospitaal in Kuilsrivier, Kaapstad, aan kanker oorlede. Hy was 84. Gaum word oorleef deur sy vrou Henda, seuns André en Laurie, en dogter Lina Hattingh. Gaum was Bybelkor, vandag Bybel-Media, se eerste uitvoerende direkteur. Dit het onder andere tydskrifte soos Die Voorligter versprei, wat later omskep is in die tydskrif LiG, en die NG Kerk se Jaarboek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….