Nuus 08:00
BULLETIN 1 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die regering van nasionale eenheid skep ‘n bevorderlike omgewing vir beleggings
# Die DA sê ‘n nasionale minimumloonverhoging sal bydra tot die werkloosheidskrisis
# En motorsport: Renault gaan sy F1-enjinprogram beëindig
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering van nasionale eenheid se strategiese voorkeure is om volhoubare ekonomiese groei te bereik, armoede te verlig en ‘n etiese, bevoegde ontwikkelingstaat te ontwikkel. Hy is tans op ʼn werksbesoek aan die Verenigde Koninkryk wat een van Suid-Afrika se belangrikste bilaterale vennote is, veral wat handel, belegging, toerisme en Billike Energie-oordrag betref. Mashatile het aan Bloomberg gesê die regering van nasionale eenheid wil ʼn gunstige beleggingsomgewing skep:
# Die DA sê hy is gekant teen enige voorgestelde verhoging van Suid-Afrika se nasionale minimumloon omdat dit die land se hemelhoë werkloosheidsyfer sal vererger. Maandag was die laaste dag waarop belanghebbers geskrewe kommentaar oor moontlike veranderinge aan die minimumloon kon indien. Michael Bagraim van die DA sê deur die huidige minimumloon te behou, word ʼn balans geskep tussen die beskerming van bestaande werkers terwyl dit terselfdertyd deure oopmaak vir indiensneming:
# Die ANC se adjunk-hoofsekretaris, Nomvula Mokonyane, sê die DA se federale voorsitter, Helen Zille, het nie bevoegdheid om aan die ANC voor te skryf oor leierskapsbesluite nie. Dit volg nadat Zille die ANC beskuldig het dat hy die regering van nasionale eenheid in gevaar stel deur die mosie om die DA-geleide koalisie in Tshwane te verwyder. Cilliers Brink is Donderdag as burgemeester verwyder. Mokonyane sê Zille se siening is nie konsekwent nie omdat die DA met ander saamwerk om die ANC se potensiaal in ander streke te ondermyn. Sy sê hulle wil bestendigheid in Tshwane teweeg bring.
# Die Israelse weermag sê hy het begin met beperkte, plaaslike en geteikende grondoperasies teen Hisbolla die suide van Libanon. Hy sê soldate sal daarop fokus om onmiddellike bedreigings uit Libanese dorpies langs die grens te verwyder, insluitend Hisbolla se vermoë om noordelike Israel te infiltreer. Vyf-en-negentig mense is Maandag in Israelse aanvalle in Libanon dood. Die Verenigde Koninkryk se minister van buitelandse sake, David Lammy, sê die situasie in Libanon is plofbaar en kan vinnig versleg:
# Motorsport: Die Franse vervaardiger, Renault, het aangekondig hy gaan sy Formule Een-enjinprogram ná die 2025-seisoen beëindig. Die besluit kom in aanloop tot die bekendstelling van nuwe F1-enjinregulasies in 2026. Dit beteken Renault se Alpine-span sal enjins by ʼn ander vervaardiger moet koop. Volgens berigte sal hulle hiervoor ʼn ooreenkoms met Mercedes aangaan. Alpine is negende uit die tien spanne in die Vervaardigerskampioenskap met net ses wedrenne wat oorbly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-588-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-635-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….