Nuus 07:00
BULLETIN 1 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party versoek die staking van die Regterlike Dienskommissie se onderhoude
# Meer as tienduisend verdagtes is tydens die weeklikse Operasie Shanela gearresteer
# En die verdagte in die Trump-sluipmoordpoging pleit onskuldig
# Die MK-party het hoofregter Mandisa Maya versoek om volgende week se onderhoude vir die Regterlike Dienskommissie uit te stel hangende die uitslag van sy appèl. Die party het aansoek gedoen om te appelleer teen die Wes-Kaapse Hooggeregshof se beslissing dat sy parlementêre leier, John Hlophe, verbied word om aan die kommissie se werksaamhede deel te neem. Die interdik geld terwyl die Nasionale Vergadering se besluit om Hlophe tot die liggaam toe te laat, hersien word. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, beskryf die uitspraak as verkeerd en onregverdigbaar:
# Die uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa, Busi Mavuso, sê Transnet se voorlopige skakeling met die privaat sektor moet uitbrei tot grootskaalse konsessies vir hawens en spoorlyne om logistieke mededingendheid te verbeter. Mavuso het gewys op die belangrikheid van mededinging tussen hawens en spoorlynkorridors en die noodsaaklikheid van uitvoermededingendheid om groei vir die land te verseker. Mavuso bepleit hervormings van water- en elektrisiteitsinfrastruktuur en verbeterde samewerking tussen die regering en die sakewêreld. Sy benadruk die kritieke rol van stabiele infrastruktuur om ekonomiese groei aan te dryf.
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het verlede week tien-duisend-668 verdagtes in hegtenis geneem tydens Operasie Shanela. Dit sluit een-duisend-941 gesoekte verdagtes in vir ernstige misdade soos moord en verkragting. Die polisie het beslag gelê op 117 vuurwapens, 872 rondes ammunisie en 54 gesteelde voertuie. ‘n Polisiewoordvoerder, Amanda van Wyk, het na die groot arrestasies verwys, insluitend die van dwelmmuile, afpersers en 157 onwettige mynwerkers:
# Die EFF in Gauteng sê hy is bekommerd omdat die Emfuleni-munisipaliteit weens sy haglike finansiële posisie nie hierdie maand munisipale werkers se salarisse kon betaal nie. Eskom het onlangs beslag gelê het op die munisipaliteit se vier bankrekeninge weens ‘n uitstaande elektrisiteitsrekening van agt-miljard-rand. EFF-woordvoerder Baleni Dumisani sê die munisipaliteit se probleme word toegeskryf aan ʼn kultuur van diepgesetelde korrupsie onder munisipale amptenare en ANC-politici in die streek:
# Die man wat beskuldig word van die sluipmoordpoging op oudpresident Donald Trump op sy Florida-gholfbaan, het onskuldig gepleit. Die 58-jarige Ryan Routh staar ‘n aanklag van poging tot moord op ʼn belangrike presidentskandidaat, een van aanranding op ʼn federale beampte, en drie federale vuurwapen-aanklagte in die gesig. Hy word nie beskuldig dat hy op Trump geskiet het nie. Indien hy skuldig bevind word aan die sluipmoord-aanklag, kan Routh lewenslank tronk toe gaan. Die maksimum vonnis op die vuurwapen-aanklagte is 20 jaar tronkstraf.
# Krieket: Twee Suid-Afrikaanse wedstrydbeamptes gaan betrokke wees by die vroue T20-Wêreldbekertoernooi wat Donderdag in die Verenigde Arabiese Emirate begin. Lauren Agenbag is aangewys as veld-skeidsregter en Shandré Fritz as wedstryd-skeidsregter op die elite-paneel wat net uit vroue bestaan. Bangladesj en Skotland open die toernooi in Sharjah, gevolg deur die wedstryd tussen Pakistan en Sri Lanka op dieselfde veld. Suid-Afrika speel Vrydag teen die Windies. Die eindstryd vind die 20ste in Dubai plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-335-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-638-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….