Nuus 06:00
BULLETIN 1 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA herhaal sy oproep dat die minister van Justisie opsystaan
# Die minister van Polisie besoek vandag die families van die Lusikisiki-slagoffers
# En Joe Biden bestempel Orkaan Helene as geskiedkundig
# Die DA het sy oproep herhaal dat die minister van Justisie, Thembi Simelane van haar pligte onthef word. Dit volg te midde van nuwe bewerings van teenstrydighede in haar leningsooreenkoms met die fasiliteerder van VBS Mutual Bank, Gundo Wealth Investments. Volgens News24 is die leningsooreenkoms waarskynlik teruggedateer. Glynnis Breytenbach van die DA, sê Simelane kan nie voortgaan in haar rol nie want die bewerings werp ’n skadu oor haar vermoëns om haar pligte uit te voer:
ActionSA gaan intussen ‘n strafregtelike klag teen Simelane indien oor die beweerde lening. Die lening, ter waarde van meer as 500-duisend-rand, is glo aangevra tydens haar ampstermyn as burgemeester van Polokwane in 2016. President Cyril Ramaphosa moet nog oor haar toekoms besluit te midde van toenemende druk dat sy bedank. Malebo Kobe van ActionSA bevestig die aanklagte sal vandag ingedien word:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, besoek vandag die families van die 18 slagoffers van ‘n tragiese massaskietery in Ngobozana, Lusikisiki in die Oos-Kaap. Adjunkministers Cassel Mathale en Polly Boshielo, en die nasionale kommissaris, Fannie Masemola sal hom vergesel. Die skietery het plaasgevind tydens ‘n tradisionele ritueel aan die einde van ‘n rouproses vir ‘n ma en dogter. Die ministerie sal veiligheidsmaatreëls met die gemeenskap bespreek, met die doel om die oortreders in hegtenis te neem.
# City Power sal hierdie week begin met ‘n twee-jaarlikse oudit van meer as 500 mini-substasies in Roodepoort. Die woordvoerder, Isaac Mangena, sê die oudit het ten doel om rekening- en meternommers in lyn te bring, betalingstatus na te gaan en die toestand van meters te bepaal. Gebiede sal Witpoortjie, Honeydew, Florida, Weltevredenpark, Stormmill, Princess, Lufhereng, Laserpark, Groblerspark en Fleurhof insluit. Mangena het inwoners versoek om tegnici op eiendomme toe te laat, om verbeterde faktuurakkuraatheid en dienslewering in die verspreidingsnetwerk te verseker.
# Die Amerikaanse president Joe Biden het Orkaan Helene as geskiedkundig bestempel met ten minste tien state wat deurgeloop het. Nagenoeg 116 mense is dood nadat Helene verlede Donderdag in Florida aangeland het. Dit het as kategorie vier begin en die kragtigste op rekord geword om Florida se Big Bend te tref, voordat dit noord na Georgia, die Carolinas en Tennessee beweeg het. Biden, wat die gebied later die week sal besoek, sê 600 mense word vermis:
# Krieket: Die Proteas se toer na Bangladesj gaan dié maand voort nadat ‘n sekerheidsondersoek gedoen is na politieke onrus in die Suid-Asiese land. Die twee spanne pak mekaar in twee toetse. Die eerste begin die 21ste in Dhaka en die tweede die 29ste in Chattogram. Die vroue se T20-Wêreldbekertoernooi, wat Donderdag begin, is na die Verenigde Arabiese Emirate verskuif nadat eerste minister Sheikh Hasina se regering in Augustus omvergewerp is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-432-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-634-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….