Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 September 5 vm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie skep ‘n nuwe model vir privaat deelname in die energiesektor
# Tshwane se waarnemende burgemeester sê dienslewering kry steeds voorkeur
# En, krieket: Kagiso Rabada is terug vir die Proteas se toetsreeks teen Bangladesj
# Die Nasionale Tesourie het ‘n nuwe model vir privaat deelname in die energiesektor geskep om die risiko te verminder met projekte sonder regstreekse regeringswaarborge. Die departement se Tesourier-Generaal, Duncan Pieterse, sê die projek gebruik ʼn kredietwaarborginstrument, gerugsteun deur die Multilaterale Beleggingswaarborgagentskap van die Wêreldbank. Die benadering sal die regering se aanspreeklikheid verminder maar terselfdertyd privaat belegging aanmoedig, veral met transmissie. Eskom se agterstand van 14-duisend-kilometer vir transmissielyne en sy swak finansiële posisie noodsaak die betrokkenheid van die privaat sektor, wat dit weer nodig sal maak om tariewe te hervorm.
# Tshwane se waarnemende burgemeester, Nasiphi Moya van ActionSA, sê dienslewering kry steeds voorrang tot ‘n bestendige stadsregering gevorm word. Dit volg nadat die DA-burgemeester, Cilliers Brink, Donderdag met ʼn mosie van wantroue verwyder is. Die raad se speaker, Mncedi Ndzwanana, sê ʼn nuwe burgemeester moet binne 14 dae na die laaste raadsvergadering van 26 September verkies word. Moya sê inwoners is in goeie hande met betroubare en verantwoordelike amptenare.
# Die Hooggeregshof in Makhanda in die Oos-Kaap het Nomphelo Maloyi en haar medepligtige, Yithulwazi Kay, elk tot 26-jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord op Maloyi se oom, Mynhardt Maloyi, in Graaf-Reinet in 2022. Die hof het bevind dat Nomphelo, die begunstigde van versekeringspolisse ter waarde van 165-duisend-rand, die moord beplan en Kay 20-duisend-rand aangebied het om te help. Die twee het Mynhardt vasgebind en doodgesteek. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Luxolo Tyali, sê hulle is nie tevrede met die vonnisse nie:
# Krieket: Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada is terug in die span nadat toetsafrigter, Shukri Conrad, ’n groep van 15 aangekondig het vir volgende maand se reeks van twee wedstryde teen Bangladesj. Die Proteas kom op 16 Oktober in Dhaka aan en die eerste wedstryd begin vyf dae later. Rabada sal die snelaanval lei wat die tweetal van Westelike Provinsie, Nandré Burger en Dane Paterson, insluit. Conrad verwag nie speeltoestande wat gunstig sal wees vir snelboulwerk nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-80-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-638-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Seereddingsinstituut vra verhoogde veiligheidsbewustheid kuslangs en in die binneland terwyl kouefronte en springgety gevaarlike toestande skep. Kouefronte en nuwemaan-springgety het gelei tot rowwe seetoestande en sterk trekstrome wat gevaar inhou vir mense op strande, bote en stappers langs die kus. Sneeu en reën word ook voorspel wat binnelandse waterweë gevaarlik maak. Die NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon, sê nooddienste bly op hoё gereedheidsgrondslag:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….