Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 September 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die eThekwini-munisipaliteit in KwaZulu-Natal is op die kortlys van 700 stede uit 69 lande in die One Planet City-uitdaging deur Plaaslike Regering vir Volhoubaarheid – Afrika. Die veldtog is ‘n gesamentlike poging van die Wêreldnatuurfonds en Plaaslike Regering vir Volhoubaarheid, wat erkenning gee aan stede wat duidelike en betekenisvolle langtermynpogings aanwend om klimaatsverandering te bekamp. eThekwini se inwoners word aangemoedig om van 1 tot 31 Oktober vir die metro te stem.
# Meer as 100 mense is dood sedert Orkaan Helene die staat Florida Donderdag as ʼn kategorie vier-storm getref het. Talle mense word nog vermis. Buncombe-distrik in Noord-Carolina waar 30 mense dood is, is die swaarste getref. Noodtoestande is afgekondig in Alabama, Florida, Georgia, Noord-Carolina, Suid-Carolina en Tennessee. President Joe Biden sê hy het die Federale Noodbestuursagentskap opdrag gegee om vas te stel hoe hulle vinniger hulp kan verleen aan diegene wat dit die nodigste het.
# En die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram waarsku indien die huidige neiging voortduur, sal jaarlikse vrystellings weens verkoeling teen 2050 verdubbel en meer as tien-persent van die wêreld se kweekhuisgasse bydra. In 2022 was vrystellings wat aan verkoeling toegeskryf word, 7,1-persent van die wêreld-totaal. Sowat 3,5-miljard mense leef tans in warm klimate, maar slegs 15-persent het toegang tot verkoeling, hoofsaaklik deur lugversorging. Die VN sê ontwikkelende ekonomieë het volhoubare, bekostigbare en energiedoeltreffende verkoelingsoplossings nodig wat aan die toenemende vraag voldoen en terselfdertyd klimaatsveerkragtigheid ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….