Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 30 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Ierland het Suid-Afrika met 10 lopies verslaan in die tweede en laaste T20-wedstryd in Abu Dhabi en die reeks gelykop laat eindig. Ross Adair het 100 lopies van 58 balle aangeteken en sy eerste T20-honderdtal behaal, wat bygedra het tot Ierland se 195 vir ses in hul 20 boulbeurte. Mark Adair het geantwoord met vier paaltjies en die Proteas kon slegs 185 vir nege op die telbord plaas. Dit was Ierland se sewende wedstryd teen Suid-Afrika.
# Vervolgens, tennis: Die tweede gekeurde Carlos Alcaraz het sy 200ste toervlak-oorwinning beklink in die ronde van 16 op die Chinese Ope. Hy is die derde speler wat in die 2000’s gebore is wat dié prestasie behaal. Die Spanjaard het Tallon Griekspoor van Nederland afgeransel en daarna in die kwarteindronde afgereken met die sewende gekeurde Karen Khachanov van Rusland, wat die Argentyn Francisco Cerundolo geklop het. Die Chinese promotorskeuse, Bu Yunchaokete, het die wêreld geskok met ‘n oorwinning oor die sesde gekeurde Italianer, Lorenzo Musetti.
# Ons maak ‘n draai by sokker: Manchester United se bestuurder, Erik ten Hag, is vol vertroue hy sal tyd gegee word by die klub, met die druk op hom wat oplaai. United het gister op Old Trafford 3-0 teen Tottenham Hotspur verloor, terwyl kaptein Bruno Fernandes net voor rustyd ‘n rooikaart op die lyf geloop het. ManU het nou sewe punte na ses Premierliga-wedstryde. Ten Hag, wat in sy derde seisoen by die klub is, sê hy is nie bekommerd oor sy werk nie:
# Motorsport: Jorge Martin van Spanje het sy kampioenskapvoorsprong vergroot deur die Indonesiese Moto Grand Prix te wen. Dit was sy derde oorwinning van die seisoen. Die jaer van Prima Pramac Racing was tweede voor sy mede-Spanjaard, Pedro Acosta, en Francesco Bagnaia was derde. Brad Binder van Suid-Afrika het agtste geëindig vir KTM. Martin het 25 punte verdien met sy aanslag en sy voordeel oor Bagnaia tot 21 uitgebrei. Hy sê dit was ‘n taai wedren:
# En gholf is laaste aan die beurt: Span Amerika het die rekord verbeter toe hy die Presidentebeker die tiende agtereenvolgende keer opgeraap het deur Span Internasionaal op die Royal Montreal-gholfklub in Kanada te verslaan. Amerika het die laaste dag met ʼn voorsprong van 11-7 begin nadat hy Saterdag ses van die agt punte gewen het. Keegan Bradley het die wenpunt beklink toe hy Kim Si-woo verslaan het. Amerika het ses van die enkelspel-wedstryde gewen en was gelykop in drie. Bradley sê die span was ongelooflik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….