Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 September 12 vm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA dreig om sy steun te onttrek as die ANC sy eie burgemeesters-kandidaat in Tshwane voorstel
# OUTA eis deursigtigheid met Gauteng se e-tolskuldterugbetaling van drie-miljard-rand
# Sokker: Manchester United se bestuurder is nie bekommerd oor sy pos na die loesing teen Tottenham nie
# ActionSA dreig om sy ondersteuning te onttrek as die ANC sy eie burgemeesters-kandidaat in Tshwane benoem. Volgens berigte wil die ANC Kgosi Maepa as kandidaat voorstel om Cilliers Brink van die DA te vervang, wat Donderdag met ‘n mosie van wantroue verwyder is. ActionSA het gesê hy gaan onderburgemeester Nasiphi Moya benoem. Die party se voorsitter, Michael Beaumont, het aan News24 gesê indien die ANC teruggaan op sy woord, gaan hy sonder ʼn meerderheid regeer.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vra duidelikheid oor Gauteng se e-tolskuld van drie-miljard-rand wat na verwagting vandag betaal sal word. Die LUR vir Finansies, Lebbogang Maile, het verlede week die geskeduleerde betaling bevestig. Maile het erken die skuld is ‘n aansienlike finansiële las, want daar word van die provinsie verwag om sowat 20-miljard-rand se skuld te dek. Wayne Duvenhage van OUTA doen ‘n beroep vir die uitwissing van verkwistende uitgawes en ‘n deursigtige proses:
# Die militante groep Hamas sê sy leier in Libanon, Fatah Sharif, sy vrou en twee kinders is dood in ʼn Israelse aanval in die suide van die land. Dit volg ʼn dag nadat Israel grootskaalse lugaanvalle uitgevoer het op militêre teikens van die Houthi-regime in Jemen. Die Palestynse militante groep, Popular Front for the Liberation of Palestine, het intussen bekendgemaak drie van sy leiers is dood in ʼn Israelse aanval op sentraal-Beiroet in Libanon in die vroeë oggendure.
# Sokker: Manchester United se bestuurder, Erik ten Hag, is vol vertroue hy sal tyd gegee word by die klub, met die druk op hom wat oplaai. United het gister op Old Trafford 3-0 teen Tottenham Hotspur verloor, terwyl kaptein Bruno Fernandes net voor rustyd ‘n rooikaart op die lyf geloop het. ManU het nou sewe punte na ses Premierliga-wedstryde. Ten Hag, wat in sy derde seisoen by die klub is, sê hy is nie bekommerd oor sy werk nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-452-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-654-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-6-sent per vat.
# En ten slotte: Die bekroonde country-musieklegende, liedjieskrywer en akteur, Kris Kristofferson, is in die ouderdom van 88 in sy huis in Hawaii oorlede. Hy het treffers soos Me and Bobby McGee en Help Me Make It Through the Night geskryf, en drie Grammy-toekennings ontvang. Kristofferson het ook roem verwerf as akteur, in rolprente soos A Star Is Born saam met Barbra Streisand, waarvoor hy ‘n Golden Globe verwerf het, en Alice Doesn’t Live Here Anymore. Hy is in 2004 opgeneem in die Country-musiek-heldesaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….