Nuus 11:00
BULLETIN 30 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die huidige benadering tot wêreldvrede is onbillik, onregverdig en onvolhoubaar
# Daar is beweerde teenstrydighede in die minister van Justisie se VBS-gekoppelde leningsooreenkoms
# En, die bekroonde country-sanger en akteur Kris Kristofferson sterf op 88
# President Cyril Ramaphosa sê die wêreld se veiligheid kan nie langer in die hande van ‘n paar groot spelers gelaat word terwyl daar talle en ingewikkelde bedreigings is vir internasionale vrede en sekerheid nie. Hy het verlede week die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York bygewoon. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die huidige benadering tot wêreldvrede is onbillik, onregverdig en onvolhoubaar, en die VN-Veiligheidsraad moet meer verteenwoordigend wees. Hy vra ‘n versterkte fokus op bemiddeling en dat geskille polities bygelê word.
# Die leningsooreenkoms waarop die minister van Justisie, Thembi Simelane, staatmaak om die geld te regverdig wat sy ontvang het van Ralliom Razwinane, wat van VBS-bedrog aangekla word, lyk of dit teruggedateer is. Volgens Daily Maverick en News24, is die leningsooreenkoms onderteken op 30 September 2016. Daar is egter twee agtereenvolgende paragrawe wat in die toekomstige en verlede tyd geskryf is, wat blykbaar die datum van ondertekening weerspreek. Simelane het herhaaldelik ontken daar was enige wanoptrede met die verkryging van die lening van 575-duisend-600-rand terwyl sy burgemeester van Polokwane in Limpopo was.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê hy sal voortgaan met hervormings om bestuur, verkrygingsprosesse en dienslewering te verbeter in sy poging om ‘n skoon ouditverslag te kry. Die Ouditeur-generaal het bevind die departement het in die 2023/’24-boekjaar onregmatige uitgawes van 2,7-miljard-rand, en vrugtelose en verkwistende uitgawes van 17-miljoen-rand aangegaan. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê hervormings word steeds in die huidige boekjaar ingestel om ouditbevindings te hanteer en bedryfsdoeltreffendheid te verbeter:
# Sokker: Manchester United se bestuurder, Erik ten Hag, is vol vertroue hy sal tyd gegee word by die klub, met die druk op hom wat oplaai. United het gister op Old Trafford 3-0 teen Tottenham Hotspur verloor, terwyl kaptein Bruno Fernandes net voor rustyd ‘n rooikaart op die lyf geloop het. ManU het nou sewe punte na ses Premierliga-wedstryde. Ten Hag, wat in sy derde seisoen by die klub is, sê hy is nie bekommerd oor sy werk nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-384-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-657-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-49-sent per vat.
# En ten slotte, die bekroonde country-musieklegende, liedjieskrywer en akteur, Kris Kristofferson, is in die ouderdom van 88 in sy huis in Hawaii oorlede. Hy het treffers soos Me and Bobby McGee en Help Me Make It Through the Night geskryf, en drie Grammy-toekennings ontvang. Kristofferson het ook roem verwerf as akteur, in rolprente soos A Star Is Born saam met Barbra Streisand, waarvoor hy ‘n Golden Globe verwerf het, en Alice Doesn’t Live Here Anymore. Hy is in 2004 opgeneem in die Country-musiek-heldesaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….