Nuus 08:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Freedom Under Law verwelkom die interdik teen John Hlophe se deelname aan Regterlike Dienskommissie
# Voormalige Kruger-wildtuin-veldwagters word gevonnis tot 20 jaar vir renosterstropery
# En, rugby: Baie op die spel in vandag se laaste Rugbykampioenskap-ronde
# Freedom Under Law verwelkom die beslissing van die Wes-Kaapse Hooggeregshof om ‘n interdik uit te reik teen voormalige regter John Hlophe. Die interdik bly van krag totdat alle regsuitdagings bygelê is. Die beweging sê die hof het bevind daar is ʼn sterk saak teen die aanstelling wat beteken hy sal nie die sitting van die Regterlike Dienskommissie in Oktober bywoon nie. Die beweging voer aan Hlophe se deelname bedreig regterlike onafhanklikheid en verwys na sy verwydering weens growwe wangedrag.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die vonnisse van 20 jaar wat twee voormalige veldwagters van die Nasionale Kruger-wildtuin, Lucky Mkanzi and Nzima Joel Sihlangu, opgelê is vir renosterstropery. Die Streekhof op Skukuza in Mpumalanga het die twee skuldig bevind aan sameswering en die stroop van twee renosters in 2018. Die streekswoordvoerder van die NVG, Monica Nyuswa, sê stropery bedreig beskermde spesies en die omgewing en hierdie vonnis stuur ʼn sterk boodskap om die natuurlewe vir toekomstige geslagte te beskerm:
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu,en die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het in die Nelson Mandelabaai-metro ‘n ooreenkoms onderteken om openbare veiligheid te bevorder. Dit volg ná toenemende misdaad, insluitend ontvoerings en afpersing. Mabuyane bepleit militêre ontplooiing by sleutelinfrastruktuurprojekte asook as die ontplooiing en koördinering van pogings deur beide nasionale en plaaslike polisie. Intussen bepleit Mchunu die gebruik van tegnologie om misdadigers se bewegings op te spoor:
# Tropiese storm Helene het wydverspreide oorstromings veroorsaak in die suidooste van Amerika, insluitende Florida, met minstens 33 mense dood en honderde duisende sonder elektrisiteit gelaat. Polisie en brandbestryders het duisende mense uit die vloedwaters gered in state wat geraak is, insluitende in Atlanta, Georgia, waar ʼn woonstelgebou weens oorstormings ontruim moes word. Helene het land in Florida bereik met wind van tot 225 kilometer per uur, maar dit het verswak tot ʼn tropiese storm terwyl dit gister in Georgia inbeweeg het.
# Ten slotte, rugby: Baie is op die spel vandag in die laaste ronde van die Rugbykampioenskap. Suid-Afrika benodig net een ligapunt teen Argentinië om die titel die eerste keer sedert 2019 in te palm terwyl die Pumas ʼn bonuspunt-oorwinning moet behaal asook die Springbokke verhinder om ʼn ligapunt te kry om vir die heel eerste keer as kampioene gekroon te word. Indien die All Blacks die Wallabies vanoggend klop kan hulle tweede eindig indien die Bokke vanmiddag wen. Australië sal ongeag die uitslae die houtlepel kry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….