Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa gedenk die terugkeer van vryheidsvegters se oorskot
# Tax Justice SA sê die nuwe hofuitspraak oor FITA-kamera-installasies is ‘n verdere hupstoot vir misdadigers
# En, rugby: Die Wallabies-kaptein vra ‘n sterk begin om die All Blacks môre te klop
# President Cyril Ramaphosa het die terugkeer van die oorskot van 42 vryheidsvegters gedenk. Hy het in sy hooftoespraak op ‘n repatriasieseremonie in Vryheidspark in Pretoria hulde gebring vir die opofferings gedurende die stryd teen apartheid en erkenning gegee aan die pyn wat hulle gesinne moes verduur. Ramaphosa het ook sy dank uitgespreek teenoor die regerings van Zambië en Zimbabwe vir hulle ondersteuning om die oorskot te repatrieer en verwys na die sterk bande tussen Afrikalande in die vryheidstryd:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens die reg geweier om te appelleer teen ‘n interdik wat sal keer dat kringtelevisiekameras op die perseel van alle gelisensieerde sigaretvervaardigers aangebring word. Tax Justice SA se stigter, Yusuf Abramjee, sê die oorwinning deur die Fair Trade Independent Tobacco Association is ‘n bespotting van geregtigheid en net nog ‘n hupstoot vir misdadigers:
# Rise Mzansi sê die regering sal ‘n miljard-rand moet opdok vir drie nuwe rybewys-drukmasjiene aangesien die huidiges nie meer bruikbaar is nie. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het onthul die huidige masjiene het die einde van hul leeftyd bereik, met elke masjien wat ongeveer 334-miljoen-rand kos. Makashule Gana van Rise Mzansi sê die plaaslike diens van die nuwe masjiene is noodsaaklik om vertragings met die uitreiking van rybewyse te vermy:
# Drie mense is dood en meer as ‘n miljoen sit sonder krag nadat Orkaan Helene meedoënloos deur die Amerikaanse staat Florida tot in Georgia beweeg het. Een van die ergste storms in menseheugenis in Florida is nou op koers na een van die land se grootste stede, Atlanta. President Joe Biden het inwoners versoek om ag te slaan op waarskuwings oor ontruiming. In die Taylor-distrik het owerhede mense wat nie wou ontruim nie, gevra om hulle name en geboortedatums in permanente ink op hulle arms te skryf om hulle te kan identifiseer en familielede in kennis te stel.
# Rugby: Die kaptein van die Wallabies, Harry Wilson, glo hulle kan die All Blacks klop in môre se Rugbykampioenskapstoets in Wellington. Australië het verlede week in Sydney met ʼn agterstand van 21-nul teruggeveg en met 31-28 verloor, wat hulle laat moed skep om môre ʼn reeks van agt agtereenvolgende nederlae teen hulle bure te beëindig. Volgens Wilson moet hulle beter begin nadat die Kiwi’s binne die eerste 20-minute drie verdoelde drieë aangeteken het. Nieu-Seeland kan steeds tweede eindig indien Suid-Afrika Argentinië môre klop, maar Australië sal laaste eindig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-342-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-662-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….