Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus
# Die Grammy-bekroonde musikant, Tyla, het die meeste benoemings ontvang vir die 30ste Suid-Afrikaanse Musiektoekennings wat in November plaasvind. Haar vyf benoemings sluit in album van die jaar, vroue-kunstenaar van die jaar, en beste gesamentlike produksie vir haar trefferliedjie, Water, saam met Travis Scott. Kabza de Small, Mthunzi en Mbuso Khoza het elkeen drie benoemings ontvang. Die Opnamebedryf van Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Nhlanhla Sibisi, sê vanjaar se benoemings vertoon die ongelooflike verskeidenheid, talent en kreatiwiteit in Suid-Afrikaanse musiek:
# Die vervaardiging van ‘n dokumentêre program in verskeie episodes oor die lewe en loopbaan van die sangeres, aktrise, regisseur en vervaardiger, Barbra Streisand, het begin. Die dokumentêr sluit in honderde ure van persoonlike videos wat nog nie voorheen uitgegee is nie, asook foto’s, klankopnames en persoonlike aandenkings van haar roemryke loopbaan. Streisand sê sy het jare lank gedink oor die beste manier om die omvangryke inhoud te deel wat sy veilig in ‘n kluis bewaar het. Sy het verlede jaar haar memoir van 970-bladsye getiteld My Name is Barbra bekendgestel.
# Coldplay gaan volgende jaar Taylor Swift se rekord verbysteek met ‘n baanbreker-reeks van tien konserte in die Wembley-stadion in Londen. Swift het verlede maand die Europese gedeelte van haar Eras-toer met agt konserte op Wembley afgesluit en die rekord vir solo-sangers oortref wat Michael Jackson met sy Bad Tour in 1988 opgestel het. Coldplay se toer is ter ondersteuning van hulle tiende album, Moon Music, wat volgende Vrydag bekendgestel gaan word. Kaartjies vir die toer is van vandag beskikbaar.
# Die Hats On for Children’s Palliative Care-veldtog keer in Oktober terug. Die doel is om fondse in te samel vir kinders se palliatiewe sorg en bewustheid te skep oor kinders wat aan ongeneeslike en lewensbedreigende siektes ly, se reg op hierdie sorg. Mense word aangemoedig om op die 11de van volgende maand ‘n hoed werk toe of skool toe te dra, ʼn foto daarvan te neem en op sosiale media te plaas onder die hutsmerk #HatsOn4CPC, en geld te skenk aan PatchSA of enige ander diens wat palliatiewe sorg aan kinders bied.
# En ten slotte: Die Wild Women on the Run-veldtog het meer as 75-duisend-rand vir liefdadigheid ingesamel tydens hulle dae lange roete langs die Oos-Kaapse Wildekus. Hulle het tien-duisend-rand aan die Busfare Babies-geboortesentrum geskenk, 32-duisend-500-rand aan die African Angels-skool en 32-duisend-500 aan The Kings-kinderhuis. Die organisasie het oor 13 jaar byna 2,5-miljoen-rand vir vroue en kinders in nood ingesamel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….