Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# John Hlophe word verbied om deel te neem aan die Regterlike Dienskommissie se bedrywighede
# Die DA sal Cilliers Brink benoem om terug te keer as Tshwane se burgemeester
# En, tennis: Carlos Alcaraz hoop die Davisbeker-eindtoernooi is nie die einde van Nadal se loopbaan nie
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het die adjunkpresident van die MK-party, John Hlophe, verbied om deel te wees van die bedrywighede van die Parlement se Regterlike Dienskommissie. Dit volg op ‘n aansoek van die DA en Freedom Under Law, wat aangevoer het dit is irrasioneel dat die eerste regter wat afgedank is, deel is van die instelling wat regters ondervra en omsien na regterlike dissipline. Hlophe, wat vroeër vanjaar ingehuldig is, is tans leier van die opposisie en ʼn lid van dieselfde Parlement wat gestem het om hom te verwyder.
# Die DA se leier in Gauteng, Solly Msimanga, sê die party gaan Cilliers Brink as burgemeesterskandidaat vir die Stad Tshwane benoem om steeds vordering te maak in die metro. Msimanga het gepraat tydens ʼn nuuskonferensie oor die afloop van die mosie van wantroue teen Brink wat gister in die raad deurgevoer is. Hy sê die president van ActionSA, Herman Mashaba, het aan joernaliste gese hulle het ʼn ooreenkoms met die ANC om Nasiphi Moya as burgemeester aan te wys:
# Die onderwysvakbond Sadou verwelkom die Arbeidshof se uitspraak dat Rand Mutual Assurance sy lede se geld moet teruggee. Dit volg nadat die maatskappy in samewerking met die Educators Union of South Africa onregmatig geld van onderwysers in KwaZulu-Natal se salarisse afgetrek het as deel van ʼn sogenaamde versekeringskema. Sadou se hoofsekretaris, Mugwena Maluleke, sê onregmatige bedrae is sonder hul medewete of toestemming by agt-duisend-808 onderwysers se salarisse afgetrek:
# Tennis: Die wêreld nommer drie, Carlos Alcaraz, hoop die eindtoernooi van die Davisbeker in November is nie die swanesang van sy beroemde Spaanse landgenoot, Rafael Nadal, nie. Die 38-jarige wenner van 22 Grand Slam-toernooie is in die land se groep ingesluit saam met Alcaraz, Roberto Bautista Agut, Pablo Carreno Busta en Marcell Granollers vir die toernooi in Málaga. Nadal en Alcaraz het op die Olimpiese Spele in Parys aan die dubbelspel deelgeneem. Die jonger speler sê hy geniet elke oomblik wat hulle op en van die baan deel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-819-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-660-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Die Grammy-bekroonde musikant, Tyla, het die meeste benoemings ontvang vir die 30ste Suid-Afrikaanse Musiektoekennings wat in November plaasvind. Haar vyf benoemings sluit in album van die jaar, vroue-kunstenaar van die jaar, en beste gesamentlike produksie vir haar trefferliedjie, Water, saam met Travis Scott. Kabza de Small, Mthunzi en Mbuso Khoza het elkeen drie benoemings ontvang. Die Opnamebedryf van Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Nhlanhla Sibisi, sê vanjaar se benoemings vertoon die ongelooflike verskeidenheid, talent en kreatiwiteit in Suid-Afrikaanse musiek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….