Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 September 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons spring weg met rugby: Die Springbokke wil Eben Etzebeth se spesiale mylpaal môre vier deur Argentinië in Mbombela te klop en die Rugbykampioenskapstitel in te palm. Die slot sal die mees ervare Bokspeler word wanneer hy Victor Matfield se rekord van 127 toetse verbeter. Die haker Bongi Mbonambi, wat sedert hulle junior dae teen of saam met Etzebeth speel, beskryf hom as ‘n uiters gerespekteerde spanmaat. Afrigter Rassie Erasmus sê die Bokke wil hom vergoed, en hulpafrigter Daan Human sê hy’s die maklikste speler om af te rig.
Argentinië het intussen steeds ‘n buitekans om die titel in te palm. Hulle benodig egter ʼn bonuspunt-oorwinning oor die viermalige wêreldkampioen, wat hulle moet verhinder om enige ranglyspunte te verdien. Die Pumas se hoofafrigter, Felipe Contepomi, het sewe veranderings aangebring aan die span wat die Bokke verlede week in Argentinië verras het, met Santiago Grondona onder meer in die plek van die beseerde flank Marcos Kremer, en die voortreflike slot Thomas Lavanini terug in die opdrafspan.
# Vervolgens, swem: Chad le Clos, Rebecca Meder en Ruard van Renen het vir die Wêreld-kortbadkampioenskap gekwalifiseer wat in Desember in Boedapest, Hongarye, plaasvind. Le Clos het op die Suid-Afrikaanse kortbadkampioenskap in Durban die 50 meter vlinderslag in 22,40-sekondes gewen en die 100 meter vryslag in 46,91-sekondes. Van Renen was tweede in die 100 meter vryslag in 47,02-sekondes, wat ook binne die kwalifiserende tyd val. Meder het verras met ʼn oorwinning in die 100 meter borsslag wat nie haar spesialis-nommer is nie, en die 100 meter individuele wisselslag.
# Gholf is volgende aan die beurt: Span Amerika het die Presidentsbekertoernooi in Montreal, Kanada, goed afgeskop en in die eerste ronde al vyf wedstryde teen die Internasionale Span gewen. Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, en sy spanmaat, Russell Henley, het die voortou geneem vir Span Amerika en die dag se beste oorwinning behaal toe hulle met die Suid-Koreaanse paar, Tom Kim en Sungjae Im, afgereken het. Xander Schauffele, Collin Morikawa en Patrick Cantlay het ook tot Amerika se seges bygedra. Span Amerika wil die Presidentsbeker die tiende agtereenvolgende keer buit.
# Ons sluit af met motorsport: Die Formule Een-span Red Bull het die Australiër, Daniel Ricciardo, met onmiddellike ingang uitgeskop en met die Nieu-Seelander, Liam Lawson, vervang vir die seisoen se laaste ses wedrenne. Ricciardo se spanmaat, Yuki Tsunoda, het hom vanjaar gereeld die loef afgesteek. Lawson het verlede seisoen aan vyf wedrenne deelgeneem nadat Ricciardo sy polsgewrig gebreek het in ʼn botsing tydens die Nederlandse Grand Prix. Ricciardo het in sy F1-loopbaan van 14 seisoene 257 keer weggespring en agt oorwinnings behaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….