Nuus 11:00
BULLETIN 27 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Oproep word gedoen vir ‘n ondersoek na die onafhanklikheid van die Nasionale Vervolgingsgesag
# ‘n Energiekenner sê die gasvoorsienings-monopolie verdien aandag
# En rugby: Argentinië het steeds ‘n buitekans om die Rugbykampioenskapstitel te verower
# Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om ʼn afgetrede regter aan te stel om ʼn dringende ondersoek na die Nasionale Vervolgingsgesag te lei. Dit moet die gebrek aan prestasie en verwoestende uitwerking van staatskaping ondersoek wat die vervolgingsgesag lamlê en ondersoeke na hoëprofiel-korrupsie kniehalter. Die sentrum se woordvoerder, Ann Bernstein, sê die teleurstellende vertoning van die NVG veroorsaak ʼn oorheersende gevoel van wanhoop dat die staat nie die wet kan toepas nie:
# ‘n Gasverskaffingskrisis in Suid-Afrika sal aansienlike maatskaplik-ekonomiese gevolge en werksverliese tot gevolg hê wat sleutel nywerheidsektore sal bedreig wat op aardgas en metaanryke gas staatmaak. Dit is die mening van die energiekenner Chris Yelland. Die hoofverskaffingsbron, twee gasvelde in Mosambiek wat deur Sasol bedryf word, sal van die middel van 2026 nie meer Suid-Afrikaanse kliënte bedien nie. Die Nywerheidsgasverbruikersvereniging sê ‘n gasverskaffingskrisis sal sowat 60-duisend regstreekse werksgeleenthede in gevaar stel. Yelland sê ‘n herstrukturering van die verskaffingsmonopolie in die land is nodig.
# Die Amerikaanse adjunk-president, Kamala Harris, sê Oekraïne kan nie gedwing word om ‘n vredesooreenkoms te aanvaar waarin hy sy soewereine grondgebied en neutraliteit prysgee om vrede te maak met die Russiese president, Vladimir Putin, nie. Harris en president Joe Biden het met die Oekraïnse leier, Volodymir Zelensky, in die Withuis vergader waar hy sy oorwinningsplan voorgelê het. Harris het bevestig indien sy president sou word, sal Amerika sy onwrikbare steun vir Oekraïne voortsit:
# Rugby: Argentinië het steeds ʼn buitekans om die Rugbykampioenskap in te palm wanneer hulle môre in Mbombela teen die Springbokke te staan kom. Hulle benodig egter ʼn bonuspunt-oorwinning oor die viermalige wêreldkampioen, wat hulle moet verhinder om enige ranglyspunte te verdien. Die Pumas se hoofafrigter, Felipe Contepomi, het sewe veranderings aangebring aan die span wat die Bokke verlede week in Argentinië verras het, met Santiago Grondona onder meer in die plek van die beseerde flank Marcos Kremer, en die voortreflike slot Thomas Lavanini terug in die opdrafspan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-406-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-665-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-77-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa neem vandag die tuiskoms-seremonie waar van Suid-Afrikaanse vryheidsvegters wat tydens apartheid in Zambië en Zimbabwe dood is. Die geleentheid vind plaas by die Vryheidspark-erfenisterrein en -museum in Pretoria. Die oorskot van 42 gewese vryheidshelde en -heldinne het Woensdag in Suid-Afrika aangekom. Vryheidspark se uitvoerende hoof, Jane Mufamadi, het aan die SABC gesê hulle name sal op die Muur van Name geplaas word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….