Nuus 09:00
BULLETIN 27 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU veroordeel die heraanstelling van afgedankte amptenare
# Chris Yelland sê die gas-monopolie moet herstruktureer word
# En AfriForum bepleit ‘n selfdoen-benadering in Tshwane
# Cosatu sê hy verwerp die praktyk van die aanstelling van amptenare met rekords van wangedrag – ‘n patroon wat algemeen in die land se munisipaliteite posgevat het. In die jongste voorval is die finansiële hoof, Nandipha Khanyisile Sibobidie, deur Oos-Kaapse regering en die uMgungundlovu Ekonomiese ontwikkelingsagentskap in KwaZulu-Natal weens growwe wangedrag afgedank. Maar sy is vroeër vanjaar in dieselfde pos by die Kumkani Mhlontlo-munisipaliteit aangestel. Zanele Zabala sê die kultuur van heraanstelling van omstrede mense toon daar is ‘n gebrek aan behoorlike bestuur:
# ‘n Gasverskaffingskrisis in Suid-Afrika sal aansienlike maatskaplik-ekonomiese gevolge en werksverliese tot gevolg hê wat sleutel nywerheidsektore sal bedreig wat op aardgas en metaanryke gas staatmaak. Dit is die mening van die energiekenner Chris Yelland. Die hoofverskaffingsbron, twee gasvelde in Mosambiek wat deur Sasol bedryf word, sal van die middel van 2026 nie meer Suid-Afrikaanse kliënte bedien nie. Die Nywerheidsgasverbruikersvereniging sê ‘n gasverskaffingskrisis sal sowat 60-duisend regstreekse werksgeleenthede in gevaar stel. Yelland sê ‘n herstrukturering van die verskaffingsmonopolie in die land is nodig.
# AfriForum beklemtoon ‘n doen-dit-self-benadering nadat ʼn mosie van wantroue deur die ANC, ActionSA en die EFF die burgemeester van Tshwane uit die kussings gelig het. Ernst van Zyl van AfriForum moedig inwoners aan om veiliger gemeenskappe te verseker deur by hulle takke aan te sluit, na ʼn versoekskrif met 17-duisend handtekeninge teen die ANC-EFF-koalisie. Hy beklemtoon optrede deur die gemeenskap is belangrik wanneer partypolitiek misluk:
# Minstens 46 mense, meestal vroue en kinders, het tydens ʼn godsdienstige Hindoe-fees in die ooste van Indië verdrink tydens rituele bad-seremonies in vol riviere en poele. Die driedaagse Jivitputrika-fees vier elke jaar kinders se welstand en word ook gekenmerk deur ma’s wat vir hulle kinders vas. Amptenare sê mense het riviere se gevaarlike watervlakke geïgnoreer terwyl hulle tydens die feesviering bad. Die Bihar-staat se regering het aangekondig hulle sal die families van elke sterfgeval vergoed.
# Gholf: Span Amerika het die Presidentsbeker in Montreal, Kanada, goed afgeskop en in die eerste ronde al vyf wedstryde teen die Internasionale Span gewen. Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler en sy spanmaat Russell Henley, het die voortou geneem vir Span Amerika en die dag se beste oorwinning behaal toe hulle met die Suid-Koreaanse paar, Tom Kim en Sungjae Im, afgereken het. Xander Schauffele, Collin Morikawa en Patrick Cantlay het ook tot Amerika se sege bygedra. Span Amerika wil die Presidentsbeker die tiende agtereenvolgende keer buit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-336-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-670-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….