Nuus 06:00
BULLETIN 27 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die regering is nie in staat om werk te skep nie
# Die ANC sê Cilliers Brink se verwydering lui ’n nuwe begin in vir Tshwane
# En sneeu word verwag oor dele van die Wes- en Oos-Kaap en KwaZulu-Natal
# Die EFF sê die kwartaallikse indiensnemingstatistieke wat deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is, is nog ‘n aanduiding dat die regering van nasionale eenheid misluk om die ekonomie te bestendig en werk te skep. Voltydse indiensneming het in die tweede kwartaal vanjaar met 39-duisend afgeneem in vergelyking met die eerste kwartaal. Hierdie afname was hoofsaaklik te wyte aan die besnoeiing van poste in vervaardiging, mynbou, vervoer, handel en sakedienste. Die EFF sê die regering moet beleggings in produktiewe sektore aanmoedig om landsburgers te bevoordeel.
# Suid-Afrika se nasionale Gesondheidsdepartement het bevestig openbare gesondheidsgeriewe ervaar hoë vakaturekoerse, met ‘n tekort aan dokters van 22,4-persent. Onder verpleegkundiges in die Vrystaat is daar ‘n vakaturekoers van 28-persent. Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê begrotingsbesnoeiings belemmer pogings om vakatures te vul en beïnvloed die lewering van gesondheidsorg landwyd. Motsoaledi skryf dit toe aan beperkings deur Tesourie, wat die situasie vererger en pogings vertraag om bekwame gesondheidsorgwerkers te werf. Hy het erken die personeeltekorte lei tot verhoogde werkladings, wat gehaltesorg in gevaar stel.
# Die ANC in Gauteng beskou die verwydering van die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, as die begin van ‘n herbouproses in die stad ná jare van onbestendigheid onder ‘n DA-geleide regering. Die party het Brink van wanbestuur, swak dienslewering en finansiële wanbestuur beskuldig. Die ANC se provinsiale sekretaris, Thembinkosi Nciza, het op ‘n nuuskonferensie ná die raadsvergadering beweer Brink se uitsetting sal help om bestendigheid te herstel en die behoeftes van voorheen benadeelde gemeenskappe in die stad eerste te stel:
# Die burgemeester van New York, Eric Adams, staar vyf strafregtelike aanklagte in die gesig, insluitend bedrog, omkopery en die verkryging van onwettige buitelandse veldtogskenkings. In die klagstaat van 57 bladsye word beweer Adams het vir byna ‘n dekade onbehoorlike, waardevolle voordele versoek en aanvaar. Dit sluit in luukse internasionale reise van ryk buitelandse sakelui en ten minste een Turkse regering. Die aanklaer vir New York se Suidelike Distrik, Damian Williams sê daar was voorwaardes gekoppel aan die voordele wat Adams ontvang het:
# Rugby: Die Springbokke wil Eben Etzebeth se spesiale mylpaal môre vier deur Argentinië in Mbombela te klop en die Rugbykampioenskapstitel in te palm. Die slot sal die mees ervare Bokspeler word wanneer hy Victor Matfield se rekord van 127 toetse verbeter. Die haker Bongi Mbonambi, wat sedert hulle junior dae teen of saam met Etzebeth speel, beskryf hom as ‘n uiters gerespekteerde spanmaat. Afrigter Rassie Erasmus sê die Bokke wil hom vergoed, en hulpafrigter Daan Human sê hy’s die maklikste speler om af te rig.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-904-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-672-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor ‘n kouefront wat die suidweste van die Wes-Kaap môre gaan tref. Woordvoerder Celeste Fourie sê sneeuneerslae word van Sondagoggend af op die hoogliggende dele van die provinsie verwag, wat teen Maandag na die Oos-Kaap sal uitbrei. Sy sê sneeu sal die suide van KwaZulu-Natal Dinsdagoggend bereik:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….