Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verloor 144-duisend poste vanaf Junie 2023 tot Junie 2024
# HSBC bank verlaat Suid-Afrika na 29 jaar
# En, tennis: ‘n Oorwinning vir Jannik Sinner in die eerste ronde in China
# Suid-Afrika het vanaf Junie verlede jaar tot Junie vanjaar 144-duisend werksgeleenthede verloor. Dit is volgens die Kwartaallikse Opname van Indiensnemingstatistieke wat Statistieke Suid-Afrika vandag vrygestel is. Die algehele indiensneming in die formele nie-landboukundige sektor het in die tweede kwartaal met 42-duisend gestyg, wat die indiensnemingsvlak tot 10,7-miljoen opstoot. Die gemeenskapsdienstebedryf het die grootste stygings in betrekkings aangeteken. Vervaardiging, sakedienste, mynbou, vervoer, handel en die boubedryf het poste afgestaan. Jaar-tot-jaar het die gemiddelde maandelikse verdienste met 4,8-persent toegeneem.
# Die Britse internasionale bankgroep, HSBC verlaat Suid-Afrika ná 29 jaar. Die bank verkoop sy sake-eenheid aan FirstRand en sy aandele-eenheid aan Absa. Die Londense bank sal kliënte, bates, laste en werknemers teen laat 2025 na FirstRand oordra, afhangende van regulatoriese goedkeuring. Absa sal HSBC se aandelebedrywighede oorneem. Dit volg nadat HSBC besluit het om op kern Asiatiese markte, en die voortsetting van sy wêreldwye sakeverkope te fokus.
# RISE Mzansi vra ‘n krisisplan aangesien gesteelde polisievuurwapens misdadige bedrywighede aanvuur. Verslae dui aan 371 vuurwapens en meer as 29-duisend rondes ammunisie is tussen Oktober verlede jaar en Maart vanjaar verloor of gesteel, met die hoogste aantal voorvalle in Gauteng, met 121. Die party-lid, Makashule Gana, sê die kommerwekkende statistieke, wat die minister van Polisie, Senzo Mchunu bekend gemaak het, sluit vuurwapens in wat dikwels in transito-rooftogte gebruik word:
# Die DA gaan gesprek voer met die minister van Vervoer, Barbara Creecy, oor die duur skorsing van werknemers van die Padongelukkefonds. Meer as 84-miljoen-rand is sedert 2020 aan geskorste personeel betaal wat ‘n uitwerking het op die verwerking van eise en finansiële doeltreffendheid. Die DA se woordvoerder oor Vervoer, Chris Hunsinger, sê die party verlang duidelikheid oor die uitwerking van personeelskorsings en hervormings aan die Wet op die Padongelukkefonds om die finansiële las op belastingbetalers te voorkom:
# Tennis: Die wêreld nommer een, Jannik Sinner, het die eerste stel teen Nicolas Jarry van Chili afgestaan voordat hy sy eerste wedstryd op die Chinese Ope in drie stelle beklink het. Dit was sy eerste kragmeting sedert hy vroeër die maand sy tweede Grand Slam-titel op die Amerikaanse Ope ingepalm het. Adrian Mannarino van Frankryk en Pavel Kotov van Rusland het ook gewen. In die Japannese Ope het die topgekeurde Taylor Fritz, wat in New York teen Sinner verloor het, in die eerste ronde teen Arthur Fils van Frankryk verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-819-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-667-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….