Nuus 11:00
BULLETIN 26 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party loop die hof se sperdatum mis vir ‘n strafkostebevel in sy verkiesingsbedrogsaak
# Die DA beskuldig ActionSA dat hy politieke onbestendigheid in Tshwane veroorsaak
# En rugby: Sam Cane gaan sy 100ste toets vir die All Blacks teen Australië speel
# Die MK-party het die Verkiesingshof se sperdatum misgeloop waarop hy betooghoofde moes indien waarom hy nie ‘n strafkostebevel moet kry omdat hy sy verkiesingsbedrogsaak laat vaar het nie. Die party het sy saak oor die geldigheid van Mei se verkiesing teruggetrek nadat hy beweer het meer as 9,3-miljoen stemme is nie getel nie. Hy het ook beweer hy het bewyse van ernstige onreëlmatighede. Die OVK het in hofdokumente gesê MK het nooit bewyse van verkiesingsbedrog gehad nie, maar volgehou om skandalige en skadelike bewerings te maak.
# Cosatu dring aan dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika Eskom se omstrede inkomste-aansoek tot 2028, moet verwerp. Die kragverskaffer wil hê elektrisiteitstariewe moet in die 2026-boekjaar met 36,15-persent verhoog; in 2027 met 11,81-persent; en in 2028 met 9,10-persent. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die regering moet Eskom meer ondersteun om dubbelsyfer-tariefverhogings te vermy:
# Die DA in Tshwane sê ActionSA se onttrekking aan Tshwane se veelpartykoalisie het politieke bestendigheid in die metro verongeluk. ‘n Wantrouemosie word vandag debatteer teen burgemeester Cilliers Brink. Die ANC het die mosie ingedien en sê die 18 maande met Brink aan die stuur was rampspoedig. Die DA sê alle pogings om ‘n ooreenkoms met die ANC te bereik, het misluk en met die steun van die EFF en ActionSA sal die wantrouemosie in Brink slaag.
# ‘n Japanese hof het Iwao Hakamata onskuldig bevind in ‘n herverhoor nadat hy in 1968 die doodstraf opgelê is vir die moord op ‘n gesin van vier. Die 88-jarige – die wêreld se langsdienende terdoodveroordeelde – is in 2014 ‘n herverhoor toegestaan nadat ‘n DNS-toets op bloed wat op sy broek gevind is, onthul het dat dit nie met die slagoffers ooreengestem het nie. Dit het tot sy vrylating gelei weens sy ouderdom en swak geestesgesondheidstoestand nadat hy meer as 30 jaar ‘n terdoodveroordeelde was. Die staat het twee weke om appèl aan te teken.
# Rugby: Sam Cane sal Saterdag sy 100ste toets vir Nieu-Seeland speel nadat hy ingesluit is in die opdrafspan vir die laaste Rugbykampioenskapswedstryd teen Australië in Wellington. Beauden Barrett is weer gesond en keer terug op losskakel, terwyl skrumskakel TJ Perenara vir Cortez Ratima vervang. Op binnesenter vervang Anton Lienert-Brown vir Jordie Barrett, wat ʼn kniebesering het. Damian McKenzie sal op die bank wees. Afrigter Scott Robertson sê hulle sou graag die kampioenskap wou wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-15-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-699-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-662-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….