Nuus 09:00
BULLETIN 26 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Openbare Werke stel hervormings in om vermorsing te stop
# Die repatriasie van vryheidsvegters is ‘n vreugdevolle maar pynlike oomblik
# En Putin waarsku Rusland kan kernwapens gebruik
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, sê drastiese optrede is nodig om oorsig, boekhouding en rapportering in die departement vinnig te verbeter. Die Ouditeur-generaal se verslag het onthul 86-persent van die departement se begroting is bestee, maar slegs 20-persent van sy vasgestelde doelwitte is bereik. Die afgelope drie boekjare het verkwisting toegeneem van 98-miljoen-rand tot 521-miljoen-rand. Macpherson sê hervormings moet insluit dat amptenare nie toegelaat word om tot 20-miljoen-rand te bestee sonder goedkeuring van ‘n finansiële beampte nie, en ʼn vaardigheidsoudit moet vir senior bestuur ingestel word.
# Die Activists and Citizens-forum sê geen geld kan ooit kompenseer vir die opofferings van onselfsugtige helde en heldinne wat besluit het om die wapen op te neem en teen die wrede apartheidsregime te veg nie. Die oorskot van 49 voormalige vryheidsvegters wat in ballingskap in Suider-Afrikaanse lande gesterf het, het gisteraand op die Waterkloof-lugmagbasis aangekom. Hulle is in Zimbabwe en Zambië begrawe. Dennis Bloem van die forum sê die families kan nou die oorskot van hulle geliefdes op eie bodem begrawe:
# Die Oos-Kaapse premier Oscar Mabuyane het die polisie se vinnige en beslissende optrede teen ʼn ontvoeringsindikaat in die Tshoxa-gebied, geloof. Vier vermeende ontvoerders is dood en een beseer in ʼn skietery met die polisie by ʼn huis naby Keiskammahoek. Die polisie het beslag gelê op drie ongelisensieerde vuurwapens met ammunisie en twee vermoedelik gesteelde bakkies. Die provinsiale regering se woordvoerder, Khuselwa Rantjie, sê hulle is daartoe verbind om misdaad te bekamp en kwesbares te beskerm:
# Die Russiese president Vladimir Putin sê hy sal dit oorweeg om kernwapens te gebruik as sy land deur enige staat met konvensionele wapens aangeval word. Putin het Rusland se amptelike kernwapenbeleid verander in reaksie op die VSA en Brittanje wat dit oorweeg om Oekraïne toe te laat om konvensionele Westerse missiele na Moskou af te vuur. Putin het ook gewaarsku dat ‘n kernkragmoondheid wat ‘n ander land se aanval op Rusland ondersteun, as ‘n deelnemer aan aggressie beskou sal word. Hy het bygevoeg dat die land se kernwapens die belangrikste waarborg vir veiligheid is.
# Sokker: Kaizer Chiefs het sy tweede agtereenvolgende oorwinning in die Premiersokkerliga behaal deur AmaZulu in die Moses Mabhida-stadion met drie-een te klop. Doele deur Ranga Chivaviro, Gaston Sirino, en Ignacio Miguel binne die eerste 23 minute het die weg gebaan vir ‘n gemaklike oorwinning vir Chiefs. Stellenbosch FC se moraal het ‘n hupstoot gekry met ‘n drie-nul-sege teen Cape Town City op die Danie Craven-stadion. SuperSport United het TS Galaxy met een-nul verslaan terwyl Sekhukhune United met een-elk gelykop teen Chippa United gespeel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-16-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-365-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-661-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….