Nuus 06:00
BULLETIN 26 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa skets Suid-Afrika se G20-prioriteite by die VN
# Die Budget Justice Coalition sê begrotingsbesnoeiings sal basiese onderwys knou
# En prins William is op pad na Suid-Afrika vir die Earthshot-prysuitdeling
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika gaan fokus op klimaatsfinansiering, hervorming van die Verenigde Nasies en die regverdige verspreiding van entstowwe ter voorbereiding vir die presidentskap van die G20-beraad volgende jaar. Hy het by die Algemene Vergadering van die VN gewys op die dringendheid om die onderontwikkeling van Afrika asook globale ongelykheid aan te spreek. Volgens Ramaphosa sal die beraad ‘n voortsetting wees van Agenda 2063 van die Afrika-unie wat ondersteuning wil werf vir ontwikkelende lande:
# AfriForum bevraagteken die Wet op Basiese Onderwyswette terwyl die Departement van Basiese Onderwys ernstige begrotingsbesnoeiings moet aanspreek. Die minister, Siziwe Gwarube sê tussen 79-miljard-rand en 118-miljard-rand word teen 2028 benodig. AfriForum-woordvoerder, Alana Bailey, is bekommerd oor skoolinfrastruktuur en personeel. Sy sê die bepalings in BELA, insluitend verpligte graad R, kan die druk op skole vererger:
Die Budget Justice Coalition het intussen kommer uitgespreek oor dreigende begrotingsbesnoeiings in basiese onderwys. Gwarube het onthul nege provinsiale onderwysdepartemente sal teen 2027 ‘n ekstra geprojekteerde minimum van 79-miljard-rand en ‘n maksimum van 118-miljard-rand benodig om programme te finansier. Dit sluit in onderwysers se salarisse. Die koalisie moedig die regering aan om na vernuwende fiskale benaderings te kyk wat die reg op basiese onderwys vir agtergeblewe gemeenskappe beskerm.
# Die Gautengse LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, het die provinsie se inkomste, uitgawes en fiskale uitdagings uitgelig. Maile het op ‘n nuuskonferensie gepraat oor die provinsie se finansies en 2024/25-oudituitkomste. Hy het die behoefte aan ingrypings beklemtoon om staats- en finansiële bestuur te verbeter. Hy het ook die behoefte aan deursigtigheid en fiskale verantwoordelikheid in Gauteng se ekonomiese landskap beklemtoon:
# Rugby: Afrigter Rassie Erasmus het drie spelers van die Springbok-groep vrygestel voor Saterdag se laaste Rugbykampioenskapstoets teen Argentinië in Mbombela. Ben-Jason Dixon is terug by die Stormers en Canan Moodie en Johan Grobbelaar by die Bulle voor die Verenigde Rugbykampioenskap die naweek begin. Volgens Erasmus het hy die volste vertroue in die groep vir die toets wat sal bepaal wie vanjaar die titel wen en dit is belangrik dat nasionale spelers die plaaslike klubs ondersteun.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-76-dollar-37-sent. Die prys van goud is twee-duisend-659-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Prins William kom in November na Suid-Afrika vir die vierde Earthshot-prysuitdeling in Kaapstad. Hy het hierdie inisiatief in 2020 van stapel gestuur, wat daarop gemik is om die mees innoverende oplossings vir die wêreld se grootste omgewingsuitdagings te vind. Vyftien Earthshot-finaliste is aangekondig. Dit sluit in Advanced Thermovoltaic Systems, Amazon Sacred Headwaters Alliance en die Green Africa Youth Organisation. Prins William sê die finaliste het van die opwindendste en mees vernuwende oplossings wat die grootste uitwerking tot dusver mag hê.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….