Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Provinsiale Onderwysdepartemente is binne die volgende drie-jaar in gevaar weens die befondsingskrisis
# Skole stel matrieks aan te midde van onderwysertekorte
# En, krieket: Die Engelse toetskaptein Ben Stokes is bereid om tot die witbalspel terug te keer onder die nuwe afrigter, Brendon McCullum
# Die Departement van Basiese Onderwys waarsku provinsiale Onderwysdepartemente kan binne die volgende drie-jaar in ‘n ernstige befondsingskrisis gedompel word. Die departement glo met die toenemende leerdergetalle en begrotingstekorte, sal baie provinsies sukkel om huidige personeelvlakke en noodsaaklike programme te handhaaf. Minister Siviwe Gwarube het op ‘n nuuskonferensie begrotingsbesnoeiings bespreek en sê vyf provinsies sukkel om hul begrotings vir die 2025/’26 boekjaar te dek:
Die Stigting vir Beheerliggame berig intussen sommige skole met ‘n tekort aan onderwysers in kritieke vakke stel onlangse matrieks aan. Uitvoerende hoof, Anthea Cereseto, het die kwessie uitgelig gedurende ʼn parlementêre navraag oor die werwing van gekwalifiseerde onderwysers in onderbediende gebiede. Hoewel dit nie ideaal is nie, glo sy matrieks wat vaardig is in wiskunde is dalk ʼn beter keuse as ongekwalifiseerde onderwysers. Die Departement van Basiese Onderwys gee toe daar is deurlopende uitdagings om gekwalifiseerde opvoeders te behou, en is daartoe verbind om vakatures in landelike gebiede te monitor.
# Mediese nooddienste het bevestig dat een liggaam gevind is in die Broadwalk Urban Village-kompleks in Midrand, Johannesburg, nadat ‘n brand gisteraand uitgebreek het. Volgens die EMS-woordvoerder, Xolile Khumalo, is die slagoffer se liggaam onder ‘n ineengestorte dak gevind. Die brand het blykbaar in die slagoffer se woonstel ontstaan. Khumalo sê die oorsaak van die brand word ondersoek en owerhede is besig om die skade te bepaal:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, kritiseer die groeiende getal regerings en groepe wat sonder enige gevolge optree en verwys na die oorloë in Oekraïne, Gaza en Soedan. Hy veroordeel hoe hulle sonder gevolge die internasionale reg oortree, lande inval en hulle eie mense verwaarloos. Guterres sê burgerlikes ly die ergste onder hierdie optredes met ‘n stygende dodetal en verwoeste gemeenskappe. Hy waarsku konflik soortgelyk aan Gaza en Libanon kan uitbrei en vra verenigde pogings om hierdie krisisse aan te pak.
# Krieket: Engeland se toetskaptein, Ben Stokes, is bereid om onder die nuwe afrigter, Brendon McCullum, na die witbalspel terug te keer. McCullum is as hoofafrigter van alle formate aangestel na twee jaar met verskillende afrigters vir wit- en rooibalkrieket. Die Nieu-Seelander sal ook verantwoordelik wees vir spanne in die korter formate wanneer Engeland in Januarie in Indië toer. Stokes het uit internasionale eendag-krieket getree voor hy verlede jaar teruggekeer het vir die Wêreldbekertoernooi. Hy het laas ʼn internasionale T20-wedstryd gespeel in die Wêreldbeker-eindstryd van 2022.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-516-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-663-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….