Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Justisie verskyn voor die ANC se integriteitskomitee oor bewerings oor ‘n VBS-lening
# Die minister van Basiese Onderwys sê korrupsie en ‘n gebrek aan ekonomiese groei vererger die onderwysbegrotingstekort
# En, tennis: Carlos Alcaraz sê baie spelers stem saam die huidige skedule is onhoudbaar
# Die ANC het bevestig die minister van Justisie, Thembi Simelane, sal vandag voor die Integriteitskomitee verskyn om aantygings oor ‘n VBS Mutual Bank-lening te beantwoord. Die ondersoek hou verband met ‘n lening van 575-duisend-rand wat sy van Gundo Wealth Solutions ontvang het terwyl sy burgemeester van Polokwane was. Simelane hou vol sy het niks verkeerd gedoen nie. Sy het vir die lening gevra om ‘n koffiewinkel in Sandton te koop. Die vergadering sal virtueel plaasvind en is nie oop vir die publiek nie.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, sê korrupsie en swak ekonomiese groei is sleutelbydraers tot die onderwyssektor se begrotingstekort. Volgens die minister het jare van wanbestuur, verkwistende uitgawes, ekonomiese groei en befondsingsdoelwitte wat nie nagekom is nie, befondsing vir openbare dienste soos onderwys ernstig beïnvloed. Gwarube het ‘n nuuskonferensie gehou oor ontwikkelings rondom begrotingsbesnoeiings in die onderwyssektor en doen ‘n beroep vir sterker ekonomiese beleid en teenkorrupsiemaatreëls om die onderwys se toekoms te verseker:
# Die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het strategieë uiteengesit om ernstige nadelige gebeurtenisse in gesondheidsgeriewe te verminder. Die woordvoerder, Motalatale Modiba, sê dit sluit pasiënte se veiligheid, verpligte 24-uur-verslagdoening, gespesialiseerde opleiding, roetine-risiko-assesserings en bewusmakingsveldtogte in. Hy het ‘n afname opgemerk in hierdie gebeure, van sewe-duisend-117 in 2023 tot twee-duisend-273 in 2024, maar daar is 29 amptenare wat dissiplinêr vervolg word:
# Pensioenbetalings in Suid-Afrika het gedurende die eerste agt maande van 2024 in reële terme gedaal, maar die bedrag in huis toe neem-betalings het toegeneem. BankservAfrica se privaat-pensioenaanwyser het ‘n daling van een-persent in werklike pensioenwaarde getoon, ondanks ‘n nominale verhoging. Die aanwyser vir huis toe neem-betalings het ‘n styging van 6,7-persent in nominale salarisse aangedui en werklike betaling het met 1,9-persent gestyg. Faktore soos matigheid van inflasie, die regering van nasionale eenheid se hervormings en rentekoersverlagings, het bygedra tot verbeterde koopkrag, die verskaffing van verligting aan huishoudings en die ondersteuning van verbruikersbesteding.
# Tennis: Die Spaanse voorslagspeler Carlos Alcaraz sê talle spelers stem saam met hom die huidige skedule is onhoudbaar. Hy het gedurende die Laver-bekerkompetisie gesê die eise van die kalender maak die spel dood. Die 21-jarige wenner van vier Grand Slam-toernooie speel dié week in sy 15de toernooi vanjaar, die Chinese Ope, en sê iets moet aan die volgepakte skedule gedoen word. Daarenteen sê die wêreld nommer een, Jannik Sinner van Italië, spelers kan self kies wanneer hulle wil speel en wanneer nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-762-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-658-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….