Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsig is belowend ná die vorming van die regering van nasionale eenheid
# Motorsport: Die uittog van senior bestuurspersoneel by Red Bull duur voort
# En Caledon het nou die wêreld se langste glykabel
# Die ekonomiese vooruitsig vir Suid-Afrika lyk belowend ná die totstandkoming van die regering van nasionale eenheid meer as 100 dae gelede. Beleggers bly optimisties oor die politieke bestendigheid in die land ondanks infrastruktuur- en beleidsuitdagings wat geruime tyd reeds bestaan. Die uitvoerende hoof van Business Unity South Africa, Khulekani Mathe, het aan die SABC gesê indien die koalisieregering bestendig bly, kan dit dieper hervormings meebring:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het begin met stappe teen sy omstrede kantoorhoof, Roman Cabanac, en die aangeleentheid na die departement se menslike hulpbronne-afdeling verwys. Dit volg nadat Cabanac geweier het om te bedank nadat die minister hom twee weke gelede versoek het om dit te doen. Steenhuisen se woordvoerder, Charity McCord, sê die minister volg arbeidsreg-prosesse. Steenhuisen se aanstelling van die omstrede potgooi-uitsaaier verlede maand het kritiek ontlok weens sy uitlokkende plasings op sosiale media in die verlede.
# ‘n Verslag deur die Parlement se portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste het gevind die Goodwood-gevangenis in Kaapstad het nie ‘n behoorlike heining nie, wat lei tot smokkelhandel. Die verslag het verder die tronk uitgelig as ‘n hoë sekerheidsrisiko weens bendebedrywighede met hoëprofielgevangenes en bendeleiers wat daar gehuisves word. Die komitee het ‘n beroep vir samewerking met owerhede gedoen om heinings op te rig en selfoonnetwerke te versper om toegang tot smokkelary te bekamp en sekerheid te verbeter.
# Motorsport: Red Bull se hoof van wedren-strategie, Will Courtenay, gaan die Formule Een-span verlaat om as sportdirekteur by McLaren aan te sluit. Sy besluit volg nadat die tegniese hoof, Adrian Newey, en sportdirekteur Jonathan Wheatley ook die afgelope vyf maande bedank het. Courtenay was 20 jaar by Red Bull. McLaren se spanhoof, Andrea Stella, sê hy gaan ‘n groot bydrae maak tot die sterk leierskapspan aangesien hulle strewe is om wenners en kampioene te wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-815-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-654-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-10-sent per vat.
# En ten slotte: Caledon in die Wes-Kaapse Overberg-streek is nou die tuiste van die wêreld se langste glykabel. SA Forest Adventures se K3-glykabel van 3,2 kilometer is net minder as 400 meter langer as die vorige rekordhouer, Jais Flight, in Ras al Khaimah in die Verenigde Arabiese Emirate. Die LUR vir Toerisme, Ivan Meyer, sê hierdie nuwe glykabel sal die plaaslike ekonomie deur toerisme ondersteun:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….