Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen begin met stappe om sy kantoorhoof af te dank na hy weier om te bedank
# Die SA Sioniste-federasie is gekant teen Johannesburg se voorstel om Sandton-rylaan na Leila Khaled te vernoem
# En, tennis: Die Amerikaanse Ope-kampioen, Aryna Sabalenka, wil die jaar as nommer een afsluit
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het begin met stappe teen sy omstrede kantoorhoof, Roman Cabanac, en die aangeleentheid na die departement se menslike hulpbronne-afdeling verwys. Dit volg nadat Cabanac geweier het om te bedank nadat die minister hom twee weke gelede versoek het om dit te doen. Steenhuisen se woordvoerder, Charity McCord, sê die minister volg arbeidsreg-prosesse. Steenhuisen se aanstelling van die omstrede potgooi-uitsaaier verlede maand het kritiek ontlok weens sy uitlokkende plasings op sosiale media in die verlede.
# Die Suid-Afrikaanse Sioniste-federasie sê die hernoeming van Sandton- rylaan in Johannesburg na die Palestynse politikus Leila Khaled sal plaaslike erfenis veronagsaam en terrorisme vier. Hulle voer aan die voorstel strook nie met die stad se straathernoemingsbeleid wat op eenheid fokus nie. Die federasie se woordvoerder, Rolene Marks, waarsku Khaled se gewelddadige agtergrond by die Popular Front for the Liberation of Palestine kan moontlik verdeeldheid onder inwoners saai, ondernemings benadeel en buitelandse beleggings negatief beïnvloed:
# Die Verenigde Nasies doen ‘n dringende beroep vir internasionale ingryping om die toenemende spanning in Libanon te ontlont. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het Libanese burgerlikes aangeraai om gebiede te vermy wat die militantegroep Hizbollah vir militêre doeleindes gebruik. Die onder-sekretaris-generaal, Rosemary DiCarlo, waarsku toenemende geweld tussen Hizbollah- en Israelse magte wat burgerlike ongevalle en verplasing veroorsaak het, bedreig die streek se bestendigheid. Sy vra alle partye om selfbeheersing uit te oefen en internasionale wette na te kom:
# Tennis: Aryna Sabalenka van Belarus sê sy wil ʼn skitterende jaar op ʼn hoogtepunt afsluit deur weer die nommer een-posisie op die wêreldranglys te beklee. Die nommer twee is dié week die topgekeurde in die Chinese Ope nadat die nommer een en verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, weens persoonlike redes onttrek het. Sabalenka, wat pas die Amerikaanse Ope gewen het, kan met ʼn oorwinning in Beijing groot vordering maak om Swiatek te onttroon. Sy sal die eerste keer speel nadat sy Jessica Pegula in New York geklop het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-834-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-655-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-4-sent per vat.
# En ten slotte: Die Grammy-bekroonde sangeres en liedjieskrywer, Lady Gaga, gaan vanjaar ʼn sewende ateljee-album vrystel, asook die klankbaan van haar komende fliek, Joker: Folie et Deux. Die klankbaan-album, Harlequin, met 13 snitte, word Vrydag vrygestel en haar ateljee-album volgende maand. Gaga en Joaquin Phoenix vertolk die hoofrolle in die rolprent wat volgende maand vrygestel word. Die twee albums volg op haar onlangse enkelsnit saam met Bruno Mars, Die With a Smile.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….