Nuus 07:00
BULLETIN 25 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika beleef ’n nuwe era met die vorming van ’n regering van nasionale eenheid
# ATM sê ware erfenis is grond, kultuur en ekonomiese geregtigheid
# En, ‘n polisiespeurder verbind met die sluipmoord op ‘n Transnet-fluitjieblaser weer gearresteer nadat hy borgtogvoorwaardes oortree
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se politieke kultuur het ontwikkel en volwasse geraak met die vorming van ‘n regering van nasionale eenheid. Hy het die 79ste sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York toegespreek. Die sitting se tema was eenheid in verskeidenheid, vir die bevordering van vrede, volhoubare ontwikkeling en waardigheid vir almal, orals. Ramaphosa sê die land is in ʼn nuwe era wat groot belofte inhou:
Ramaphosa het by die dieselfde geleentheid sy oproep herhaal vir ʼn onmiddellike skietstilstand in Gaza en dat alle gyselaars dadelik vrygelaat word. Hamas het in Oktober verlede jaar sowat een-duisend-200 mense in Israel vermoor en 251 ander gyselaar geneem. Israel het in wraakaanvalle volgens berigte meer as 41-duisend mense in Gaza doodgemaak. Ramaphosa sê Suid-Afrika sal nie stilbly en kyk hoe apartheid teen ander toegepas word nie:
# Die African Transformation Movement sê Suid-Afrika se erfenis is nie net kunsmatige simbole nie maar grond, kultuur en ekonomiese geregtigheid. Die land het gister Erfenisdag gevier. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die nasionalisering van banke sonder vergoeding weerspieël volgens hom die land se regmatige vraag na ekonomiese mag. Hy sê die Grondwet moet hersien word om ʼn Afrosentriese perspektief te hê omdat dit deel is van Suid-Afrika se erfenis:
# Die polisiespeurder Michael Pule Tau is weer gearresteer nadat hy borgtogvoorwaardes oortree het. Hy word aangekla van die moord op die fluitjieblaser, Armand Swart, wat in April vermoor is. Swart het kort tevore onthul dat ʼn tender-prys by Transnet onbehoorlik verhoog is. Tau en twee medepligtiges word van moord en sameswering aangekla. Hy is onder streng toesig vrygelaat nadat hy aangekla is in ‘n saak van vuurwapens verhuur vir moorde, maar was tydens ʼn toesigbesoek nie tuis nie en dit het tot nuwe aanklagte gelei.
# Rugby: Die Stormers het op ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-toer van drie wedstryde vertrek waar hulle in Wallis, Italië en Skotland sal meeding. Die groep van 29 sluit Ruhan Nel en Damian Willemse in wat van beserings herstel het. Willemse is een van vier Springbokke wat saamgaan. Die ander is Warrick Gelant, Andre-Hugo Venter en Joseph Dweba. Die nuwelinge Dave Ewers en Louw Nel is albei gereed om hul debuut in die span te maak. Die Stormers se VRK-veldtog skop Saterdag af teen die Ospreys van Wallis.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-28-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-415-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-662-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-92-sent per vat.
# En ten slotte: Twee Russiese ruimtevaarders, Oleg Kononenko en Nikolai Chub, het die Internasionale Ruimtestasie verlaat na ʼn rekord van 374 dae in die ruimte. Kononenko hou ook die rekord vir die langste totale tydperk in die ruimte nadat hy een-duisend-111 dae rondgewentel het. Die Nasa-ruimtevaarder Tracy Dyson was ook in die Sojoes-ruimtetuig op pad na Kazakstan nadat sy ses maande op die stasie deurgebring het. Suni Williams, een van die Nasa-ruimtevaarders wat tans in die Internasionale Ruimtestasie gestrand is nadat sy op ʼn Boeing Starliner-ruimtetuig daar aangekom het, het die klok vir hulle vertrek gelui.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….