Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 25 September 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig Eskom het by die Nasionale Energiereguleerder aansoek gedoen vir tariefverhogings wat inkomste van 446-miljard-rand vir 2026, 495-miljard-rand vir 2027 en 537-miljard-rand vir 2028 sal genereer. Munisipaliteite skuld die kragvoorsiener steeds 78-miljard-rand.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig die mosie van wantroue in die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink gaan môre steeds voort. Die ANC en DA onderhandel egter op nasionale vlak om die bestendigheid van die metro te handhaaf.
En tweedens is daar nuus oor die Aardklop Kunstefees wat tans in Potchefstroom aangebied word.
# The Star & Pretoria News:
Berig kelners by restaurante sê hulle werksomstandighede kom neer op hedendaagse slawerny.
En skryf tweedens daar is groot teenstand teen die hernoeming van Sandtonweg na die Palestynse aktivis Leila Khaled.
# Sowetan:
Berig die leier van die belangrikste opposisieparty in eSwatini, Mlungisi Makhanya is na ‘n hospitaal in Pretoria gehaas nadat daar vermoed is hy is vergiftig. Daar was ook ‘n bomaanval by sy huis in 2022. Die regering het enige aanspreeklikheid ontken.
# En The Citizen:
Skryf Discovery sê verbruikers moet bereid wees om onder NVG 30-persent meer belasting te betaal vir 70-persent minder gesondheidsorg.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig ‘n verslag deur die FW de Klerk-stigting oor die omstrede Bela-wet dui daarop dat die wetsontwerp alle kinders se besluit om die taal van hul keuse te gebruik negatief sal beïnvloed.
Tweedens skryf die koerant ‘n koue front is op pad en die Vrystaat en Noord-Kaap moet voorberei op bibberweer die komende naweek.
En laastens is daar nuus oor Kovsies se netbal. Hoewel die universiteit met 112-19 oor die Tshwane Universiteit vir Tegnologie geseëvier het, sê die span hulle fokus nou net op die eindronde.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die liggaam van die 20-jarige Amerikaanse uitruilstudent, Brook Cheuvront is op Duiwelspiek gevind waar sy waarskynlik na haar dood geval het. Haar pa Steve sê sy dogter het haar laaste droom in Suid-Afrika verwesenlik.
En tweedens skryf die koerant die Universiteit Stellenbosch sê hy sal studente bystaan wat uit Wilgenhof moet trek en nuwe verblyf vind.
# En Cape Times:
Skryf die raad vir gehalteversekering in onderwys, Umalusi het uitgevaar teen die verkoop van vals matrieksertifikate.
En berig oor ‘n wêreldwye studie oor die gebruik van rubberkoeëls waarby Suid-Afrika betrek word.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig dwelmverslawing is besig om buite beheer te raak in Nelson Mandelabaai en jong skoolverlaters en sekswerkers word nou as dwelmsmouse gebruik.
En tweedens skryf die koerant die stormwind in Nelson Mandelabaai gister het nie die inwoners se braaivleisvure op Erfenisdag geblus nie.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf sakeondernemings in KwaZulu-Natal bereken die koste ná die skade wat aangerig is deur die swaar sneeuneerslag.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ‘n vrou dagvaar die ministerie van Gesondheid nadat sy na bewering twee dae moes wag dat haar dooie, ongebore baba uit haar baarmoeder verwyder word.
En tweedens skryf die koerant boere skep moed nadat die eerste reën van die seisoen geval het.