Nuus 09:00
BULLETIN 24 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa vra Amerika om in Afrika se minerale-sektor te belê
# Die voormalige MK-partyleier Jabulani Khumalo verloor sy hofstryd
# En, ’n Scandinavian Airlines-vlug word herlei nadat ’n muis uit ’n passasier se maaltyd klim
# President Cyril Ramaphosa vra groter samewerking tussen Suid-Afrika en Amerika om Afrika se noodsaaklike minerale-sektor ‘n hupstoot te gee. In sy toespraak by die Business Council for International Understanding en Prosper Africa Minerals Forum in New York, het hy Amerikaanse maatskappye aangemoedig om te belê in gevorderde myntegnologie, doeltreffende voorsieningskettings en inisiatiewe vir groen energie. Ramaphosa het ook gewaarsku teen uitbuiting van Afrika se hulpbronne soos in die koloniale era:
# Die voormalige MK-partyleier, Jabulani Khumalo, het nog ‘n terugslag beleef nadat die Gautengse Hooggeregshof teen hom beslis het, na ʼn reeks geskille tussen hom en die party sedert sy skorsing in April. Die Hof het beveel Khumalo moet as gevolmagtigde ondertekenaar van die party se bankrekening verwyder word en hom opdrag gegee om alle regskostes te betaal. ‘n Woordvoerder van die MK-party, Nhlamulo Ndhlela, verwelkom die uitspraak en beweer Khumalo se optrede is gesteun deur teenstanders van die party.
# Ter herdenking van Erfenisdag versoek die Vereniging van Staatsamptenare alle Suid-Afrikaners om eenheid te bevorder en ʼn gedeelde erfenis vir ʼn beter toekoms aan te gryp. Die vereniging vier 104 jaar in diens van staatsamptenare en het sy verbintenis tot integriteit en uitmuntende diens herbevestig. Die vakbond het aansienlike vordering gemaak om werkstoestande te verbeter en voordele soos behuisingsubsidies en mediese skemas in te stel. Woordvoerder Claude Naicker sê die vakbond beywer hom steeds vir die regte en waardigheid van meer as 245-duisend staatsamptenare:
# Motorsport: Max Verstappen het na afloop van die Singapoerse Grand Prix gesê sy straf vir ‘n vloekery tydens ʼn nuuskonferensie kan sy vertrek uit Formule 1 verhaas. Wedrenbeamptes het die 26-jarige Nederlander beveel om “diens in openbare belang” te verrig. Hy is gestraf omdat hy gevloek het terwyl hy sy motor beskryf het tydens die amptelike nuuskonferensie voor die wedren. Verstappen sê die straf is belaglik en ontneem hom van die geleentheid om sy ware self te wees. Hy is ondersteun deur sy titelmededinger, Lando Norris, en Mercedes-bestuurder, Lewis Hamilton.
# En om mee af te sluit, ‘n Skandinawiese vlug na Spanje moes na Denemarke herlei word nadat ‘n vrou ‘n muis in haar maaltyd gevind het. ‘n Woordvoerder van Scandinavian Airlines sê volgens protokol en prosedures moes die vliegtuig herlei word vir ‘n inspeksie en ontsmetting en om passasiers na ‘n ander vliegtuig oor te plaas. ‘n Passasier op die vlug, Jarle Borrestad, het aan BBC gesê mense was kalm en glad nie gestres nie. Hy het egter erken hy het sy sokkies oor sy broekspype getrek sodat die muis nie teen sy bene kon opkruip nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….