Nuus 08:00
BULLETIN 24 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa vra Amerika om in Afrika se minerale-sektor te belê
# Rugby: Ierland is terug as die nommer een-span in die wêreld
# En ‘n vermiste troetelkat kry sy pad terug huis toe 1 600 kilometer van Yellowstone af
# President Cyril Ramaphosa vra groter samewerking tussen Suid-Afrika en Amerika om Afrika se noodsaaklike minerale-sektor ‘n hupstoot te gee. In sy toespraak by die Business Council for International Understanding en Prosper Africa Minerals Forum in New York, het hy Amerikaanse maatskappye aangemoedig om te belê in gevorderde myntegnologie, doeltreffende voorsieningskettings en inisiatiewe vir groen energie. Ramaphosa het ook gewaarsku teen uitbuiting van Afrika se hulpbronne soos in die koloniale era:
# Business Leadership South Africa sê die aanbied volgende jaar van die G20-beraad skep ’n belangrike geleentheid om positiewe buitelandse sentiment teenoor Suid-Afrika ʼn hupstoot te gee. Die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die onlangse rentekoersverlaging van 25 basispunte deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank dui op ʼn verslapping van monetêre toestande, tot voordeel van verbruikers met skuld en die sentiment van buitelandse beleggers, hoewel inflasie ʼn bekommernis bly. Mavuso glo die G20-voorsitterskap kan ekonomiese vordering baat en beleggings lok, veral in die lig van die November-beraad in Brasilië.
# De DA vra die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, om die uitgawes van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag aan luukse items te regverdig, te midde van groeiende kommer oor sy prioriteite. Die party het sy besorgdheid uitgespreek oor die SANW se deelname aan ʼn duur musiekfees in Rusland wat belastingbetalers 15-miljoen-rand uit die sak gejaag het. ‘n Woordvoerder van die DA, Nicholas Gotsell, sê hierdie uitgawes doen afbreuk aan die kernmissie van die Weermag, om Suid-Afrika se grense te beskerm en die welsyn van soldate te verseker:
# Rugby: Ierland is weer boaan die ranglys van Wêreld Rugby na Suid-Afrika se nederlaag die naweek teen Argentinië. Die Springbokke is in die voorlaaste ronde van die Rugbykampioenskap met 29-28 deur die Pumas verslaan. Die nederlaag het die agtereenvolgende wêreldkampioene 1,81 ranglyspunte gekos en hulle is nou met 0,35 punte agter Andy Farrell se span. Suid-Afrika was heel bo sedert hulle Ierland verlede jaar in die kwarteindronde van die Wêreldbeker in Frankryk verbygesteek het. Australië is nou tiende op die lys en die heel laagste ooit.
# En om mee af te sluit, ‘n kat wat in die Yellowstone Nasionale Park verdwaal het, is ná twee maande en een-duisend-600 kilometer, weer by die huis. Rayne Beau (uitspraak: Rainbow) is ‘n twee-en-‘n-half-jarige Siamees en het die park in Junie besoek saam met sy eienaars uit Kalifornië. Hy het weggehardloop nadat iets hom laat skrik het. Maar 61 dae later het die egpaar die goeie nuus ontvang dat ‘n kat met Rayne Beau se identifikasienommer opgespoor is. Hulle sê hulle is nie seker hoe Rayne Beau die pad terug gevind het nie, maar hulle is verheug oor hy terug is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….