Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM maak alarm oor Suid-Afrika se verswakkende gesondheidsorgstelsel
# Donald Trump sê hy verwag nie om aan die 2028 verkiesing deel te neem nie
# En, krieket: ‘n Teleurgestelde Proteas-afrigter gaan daarop fokus om die span se diepte te ontwikkel
# Die waarnemende sekretaris-generaal van die United Democratic Movement, Zandile Phiri, is besorg oor die verswakkende gesondheidsorgstelsel in Suid-Afrika en wys op besnoeiing van poste, wanadministrasie en swak omstandighede. Kwessies sluit in die verlate Kopano-hospitaalkompleks in Welkom, onbetaalde rekenings in die Oos-Kaap wat nooddienste ontwrig en medisynetekorte in Mpumalanga. Sy versoek onmiddellike regeringsoptrede om gesondheidsorgdienste te herstel:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, David Maynier, sê tydens die skoolvakansie sal matrieks in die provinsie ‘n Lenteskool bywoon om hul werk te hersien en voor te berei vir die eindeksamen wat voorlê. Die eerste vraestel van die 2024 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen is op 21 Oktober. Maynier sê graad 12-leerders sal die geleentheid kry om instapklasse by hul skool by te woon, of by ‘n spilpunt met leerders van verskeie skole wat bywoon:
# Die voormalige president, Donald Trump, sê hy verwag nie om in 2028 weer deel te neem as hy in November se Amerikaanse presidensiële verkiesing verloor nie. Amerikaanse wetgewing verbied presidente om meer as twee termyne te dien, dus word verwag dat Trump ook nie in 2028 sal deelneem indien hy sou wen nie. Dit is die tweede keer in vier dae wat Trump die kanse van ‘n nederlaag noem. ‘n CBS-peiling hierdie naweek, wys Kamala Harris loop nasionaal voor met 52-persent teen 48-persent. ‘n NBC-peiling toon Harris het ‘n voorsprong van vyf-persentasiepunte.
# Krieket: Die witbalafrigter van die Proteas, Rob Walter, is teleurgesteld met hulle eendagreeksnederlaag teen Afghanistan, maar bly hoopvol die uitdagende toestande sou die onervare spelers tot voordeel strek. Die Proteas het die reeks verloor maar gister die bordjies verhang met ‘n troosprys-oorwinning van sewe paaltjies oor Afghanistan. Walter vertrou die nuwe groep spelers sal draaiboulers beter hanteer met die oog op die Kampioenetrofee aanstaande jaar in Pakistan vanaf 19 Februarie tot 9 Maart.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-185-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-632-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-3-sent per vat.
# Ten slotte: Die Stad Tshwane sê hy erken die noodsaaklike bestuiwingsrol wat bye speel om die plaaslike ekostelsel in stand te hou. Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie sê ‘n derde van die wêreld se voedselproduksie berus op bye. ‘n Raadslid, Marika Kruger-Muller, sê dit is noodsaaklik dat Tshwane voorkeur gee aan openbare veiligheid deur opleiding aan inwoners te verskaf oor watter plante en blomme bye aanlok en watter spesies om uit tuine te hou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….