Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu pleit minister Mantashe moet dringend ingryp met ongeregverdigde afleggings by SERITI
# Die DA sê die Valke se pas aangestelde Mbotho is nie geskik vir die pos nie
# En, krieket: ‘n Teleurgestelde Proteas-afrigter gaan daarop fokus om die span se diepte te ontwikkel
# Cosatu doen ‘n beroep op die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, om dringend in te gryp in die naderende afleggings by SERITI Resources. Die woordvoerder, Zanele Sabela, sê die onderneming het wild Artikel 189-kennisgewings uitgereik, wat beteken een-duisend-143 werkers sal hul werk verloor. Sy sê Cosatu ondersteun sy mynwerkersbondgenoot, NUM, wie se lede direk deur hierdie afleggings geraak word:
# Die DA doen ‘n dringende beroep op die minister van Polisie, Senzo Mchunu, om Patrick Mbotho se aanstelling as afdelingskommissaris by die Valke tersyde te stel, gegewe die ernstige aantygings teen hom. Mbotho begin op 1 Oktober in sy nuwe pos met ‘n salarispakket van twee-miljoen-rand. Die DA-lid Lisa Schickerling sê Mbotho het in 2017 met sy amptelike selfoon grafiese seksuele inhoud op ‘n WhatsApp-groep vir speurders geplaas:
# Die DA is besorg oor toenemende misdaad wat toerisme aan die Wildekus beïnvloed. Die DA-woordvoerder in die Oos-Kaap, Leander Kruger, wys op onlangse ontvoerings as bedreigings vir veiligheid en toerisme. Die party versoek onmiddellike optrede om sekerheid op te skerp en vertroue te herstel. Hy waarsku ongehinderde misdaad kan ernstige gevolge hê vir die streek se toerisme-gederwe ekonomie:
# Die president van Oekraïne, Volodomyr Zelensky, gaan ‘n “plan vir oorwinning” in die land se oorlog met Rusland voorlê aan president Joe Biden, die Kongres en die twee presidentskandidate, Kamala Harris en Donald Trump. Hy wil na verwagting pogings verskerp om Amerika en sy bondgenote sover te kry om Oekraïne toe te laat om die eerste keer tydens die oorlog missiele na Russiese grondgebied af te vuur. Zelensky se Amerikaanse besoek vandeesweek val saam met pogings deur die Withuis om ʼn militêre hulppakket van 6,5-miljard-rand vir Oekraïne voor te berei.
# Krieket: Die witbalafrigter van die Proteas, Rob Walter, is teleurgesteld met hulle eendagreeksnederlaag teen Afghanistan, maar bly hoopvol die uitdagende toestande sou die onervare spelers tot voordeel strek. Die Proteas het die reeks verloor maar gister die bordjies verhang met ʼn troosprys-oorwinning van sewe paaltjies oor Afghanistan. Walter vertrou die nuwe groep spelers sal draaiboulers beter hanteer met die oog op die Kampioenetrofee aanstaande jaar in Pakistan vanaf 19 Februarie tot 9 Maart.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-30-sent teen die dollar, 19-rand-31-sent teen die euro en 23-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-280-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-627-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….