Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inkomstediens hou ‘n herdenkingsdiens vir die voormalige minister Pravin Gordhan
# Die Activists and Citizens Forum sê korrupsie onder Ramaphosa is erger as onder Zuma
# En, fietsry: Die Suid-Afrikaner Candice Lill wen brons by die Bergfietsmarathon-wêreldkampioenskap
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens hou vandag ʼn herdenkingsdiens vir voormalige minister Pravin Gordhan, wat na ʼn stryd teen kanker dood is. Gordhan was SAID-kommissaris vanaf 1999 tot 2009 en is geloof vir sy leierskap en visie wat die grondslag gelê het vir ʼn moderne belasting- en doeane-administrasie. In sy huldeblyk het die voormalige minister van Finansies, Trevor Manuel, Gordhan geloof vir sy toewyding aan die staatsdiens:
# Die Activists and Citizens Forum sê korrupsie in Suid-Afrika is erger onder president Cyril Ramaphosa as wat dit onder oudpresident Jacob Zuma se administrasie was. Hy beklemtoon die ernstige bewerings van korrupsie in die Gautengse wetgewer. Die destydse speaker, Ntombi Mekgwe, en ander ANC-amptenare het volgens berigte tugprosesse gekeer, na bewerings van bedrog en verkwistende uitgawes waarby 32 werknemers en twee lede van die wetgewer betrokke was. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê korrupsie is ʼn ANC-kanker en nie ʼn Zuma-probleem nie:
# Vandag is Internasionale Gebaretale-dag, wat ‘n geleentheid is om taalkundige identiteit en kulturele verskeidenheid van alle dowe mense en ander gebruikers van ‘n gebaretaal te ondersteun. Vanjaar se tema is Sign up for Sign Language Rights. Die Wêreldfederasie van Dowes sê daar is meer as 70-miljoen dowe mense wêreldwyd, waarvan meer as 80-persent in ontwikkelende lande is. Saam gebruik hulle meer as 300 verskillende gebaretale. Die publiek word versoek om vandag gebaretaal te begin leer en bewustheid daarvan te verhoog.
# Fietsry: Die Suid-Afrikaner Candice Lill het ʼn brons medalje gewen by die UCI-Bergfietsmarathon-wêreldkampioenskap in Snowshoe, Amerika. Sy het 69 sekondes ná die wenner, Mona Mitterwallner van Oostenryk klaargemaak terwyl die Switser, Sina Frei, tweede was. Lill het verlede jaar tweede geëindig na Mitterwallner. Vyf-en-veertig vroue het aan die uitmergelende kampioenskap oor 100 kilometer deelgeneem. Simon Andreassen van Denmarke het die mansafdeling gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-528-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-616-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-27-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Seldsame skiildery deur René Magritte se gewilde L’empire des lumières-reeks sal na verwagting in November meer as een-miljard-rand op ‘n veiling van die afslaer Christie’s in New York haal. Die skildery is een van 27 waarin Magritte met lig geëksperimenteer het deur ‘n sonverligte uitspansel oor ‘n donker straattoneel. Indien die skildery uit die boedel van die ontslape binnehuis-ontwerper Mica Ertegun die geraamde prys haal, sal dit ‘n nuwe rekord vir ‘n Margitte op ‘n veiling wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….