Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 September 12.30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sê hulle moet baie werk doen voor Saterdag se beslissende Rugbykampioenskap-wedstryd teen Argentinië in Mbombela. Die Pumas het Suid-Afrika die naweek in Santiago del Estero met 29-28 geklop om hul hoop op ‘n heel eerste Rugbykampioenskapstitel, lewend te hou. Spelers wat tydens die Argentinië-afdeling van die toernooi ʼn blaaskans gevat het, sluit vandag weer by die groep aan om die volle oefenprogram te hervat. Erasmus sê hulle kan komende Saterdag vir hierdie naweek se nederlaag vergoed.
# Krieket is vogende aan die beurt: Suid-Afrika het Afghanistan met sewe paaltjies afgeransel in die derde en laaste internasionale eendagwedstryd by die Sharjah-krieketstadion. Die tuisspan wat reeds die reeks beklink het, is op 169 almal uit met Lungi Ngidi, Andile Phehlukwayo en Nqaba Peter wat elkeen drie paaltjies platgetrek het. Rahmanullah Gurbaz het met 89 die meeste lopies behaal. In antwoord daarop het Aiden Markram 69 aangeteken en die Proteas het die teiken in 33 boulbeurte gehaal. Kaptein Temba Bavuma sê hy is tevrede met hulle algemene prestasie:
# Fietsry: Die Suid-Afrikaner Candice Lill het ʼn bronsmedalje gewen by die UCI-Bergfietsmarathon-wêreldkampioenskap in Snowshoe, Amerika. Sy het 69 sekondes ná die wenner, Mona Mitterwallner van Oostenryk klaargemaak terwyl die Switser, Sina Frei, tweede was. Lill het verlede jaar tweede geëindig na Mitterwallner. Vyf-en-veertig vroue het aan die uitmergelende kampioenskap oor 100 kilometer deelgeneem. Simon Andreassen van Denmarke het die mansafdeling gewen.
# Tennis is volgende: Span Europa het in Berlyn ʼn agt-vier-agterstand teen Span Wêreld omgekeer en hul eerste Laverbeker-titel sedert 2021 opgeraap. Die terugkeer is gelei deur Carlos Alcaraz en Casper Ruud wat koning gekraai het op die laaste dag se aanvangsdubbelspel. Daniil Medvedev het sy enkelspelwedstryd teen Ben Shelton verloor terwyl Alexander Zverev met Frances Tiafoe afgereken het. Alcaraz het Taylor Fritz verslaan om Span Europa se 13-11-sege te verseker. Alcaraz sê hy is bly hulle het gewen:
# Ons sluit af met gholf: Die Amerikaner Billy Horschel het ‘n drierigting-uitspeelwedstryd teen Rory McIlroy van Noord-Ierland en Suid-Afrika se Thriston Lawrence gewen om die PGA-kampioenskap by die Wentworth-klub in Engeland te wen. Al drie het 20 onder baansyfer in hul laaste rondes aangeteken. Lawrence het egter die uitspeelstryd verlaat met een oor baansyfer op die eerste putjie. Horschel, wat ‘n arend op die tweede uitspeelputjie aangeteken en die kampioenskap vir die tweede keer in drie jaar gewen het, sê hy is sprakeloos:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….