Nuus 09:00
BULLETIN 23 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering prys die nooddiensspanne
# Daar is ‘n deurlopende ondersoek na onreëlmatige aanstellings en salarisverhogings in Mangaung
# En ‘n soektog word van stapel gestuur ná ‘n massaskietery in Alabama
# Die regering het nooddiensspanne geloof vir hulle reaksie op situasies wat weens gure weerstoestande in dele van die land ontstaan het. Twee mense is in KwaZulu-Natal dood nadat hulle op die N3-hoofweg in sneeu vasgekeer is. Dele van Gauteng, die Oos-Kaap, Mpumalanga en die Vrystaat is ook deur sneeu geraak. Die regering se waarnemende woordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê hoewel paaie opgeruim is, moet motoriste versigtig bestuur omdat sommige paaie steeds glad is:
# Die DA sê die volgehoue flaters van die departement van Openbare Werke en Infrastruktuur het die publiek se vertroue weggekalwe en dienslewering geknou. Dit volg op die Ouditeur-generaal se departementele verslag vir die 2022/2023-boekjaar. Luidens die verslag het ongemagtigde besteding die hoogte in geskiet van 98-miljoen-rand in 2020/2021 tot 521-miljoen-rand in 2022/2023, terwyl finansiële verliese 746-miljoen-rand beloop en ‘n agterstand met 107 infrastruktuurprojekte bestaan. Die DA sê hy gaan die Parlement versoek vir ‘n omvattende strategie.
# Die Openbare Beskermer se kantoor sê ondersoeke gaan voort na die vermeende onregmatige aanstellings van sommige personeellede en bestuurders by die Mangaung-munisipaliteit. Binne ses maande nadat die Mangaung-metro se departementshoofde aangestel is, is hulle en die stadsbestuurder Sello More se salarisse volgens berigte buitensporig verhoog. Die meeste departementshoofde, asook More, is laat verlede jaar aangestel. Die munisipaliteit betwis al die bewerings en sê die regte prosedures is gevolg.
# Die polisie in Birmingham, Alabama, en die federale speurdiens het ‘n soektog van stapel gestuur na die verdagtes wat vier mense doodgeskiet en 18 gewond het. Amptenare sê verskeie mense het na die Five Points South-gebied gery, uit hul voertuie geklim, verskeie skote afgevuur en weggejaag. Die polisie vermoed die aanvallers het ‘n spesifieke persoon geteiken en dat die ander in die kruisvuur raakgeskiet is. Birmingham se burgemeester, Randall Woodfin, sê vuurwapengeweld in die stad het epidemiese afmetings aangeneem:
# Tennis: Span Europa het in Berlyn ‘n agt-vier-agterstand teen Span Wêreld omgekeer en hul eerste Laverbeker-titel sedert 2021 opgeraap. Die terugkeer is gelei deur Carlos Alcaraz en Casper Ruud wat koning gekraai het op die laaste dag se aanvangsdubbelspel. Daniil Medvedev het sy enkelspelwedstryd teen Ben Shelton verloor terwyl Alexander Zverev met Frances Tiafoe afgereken het. Alcaraz het Taylor Fritz verslaan om Span Europa se 13-11-sege te verseker. Alcaraz sê hy is bly hulle het gewen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-232-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-629-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………