Nuus 06:00
BULLETIN 23 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC moet op koers bly met sy hernuwing
# Die Weermag help met die noodlenigingspoging in KwaZulu-Natal
# En Hisbolla sê hy voer nou ’n onbeperkte vergeldingstryd teen Israel
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula sê die enigste sinvolle manier om Pravin Gordhan se nalatenskap te vereer, is om op koers te bly met die party se vernuwing. Hy het die hoofrede gelewer by die herdenking van die lewe en aktivisme van die voormalige minister van Openbare Ondernemings, wat op die 13de van hierdie maand oorlede is. Die geleentheid is deur die Ahmed Kathrada-stigting aangebied. Mbalula sê die ANC moet meedoënloos wees in sy stryd teen teen-revolusie wat poog om die beweging te vernietig:
# Die ATM vra die Departement van Gesondheid en alle rolspelers om vinnig en beslis op te tree om die krisis van meer as drie-duisend-186 onopgeëiste liggame reg oor die land te hanteer. Die woordvoerder van die party, Zama Ntshona, sê onopgeëiste liggame is nie net ‘n humanitêre krisis nie, maar skep ook kommer oor openbare gesondheid. Hy voeg by faktore wat bydra tot die situasie, soos uitgeken deur die departement, waaronder gemeenskapsverwante kwessies, munisipale uitdagings en vertragings met die verwerking van DNS, moet ingrypend aangespreek word:
# KwaZulu-Natal se LUR vir Samewerkende Regering, Thulasizwe Buthelezi sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het gehelp met noodlenigingspogings. Verskeie motoriste en pendelaars was op die N3-hoofweg gestrand nadat hulle deur swaar sneeuval vasgekeer is. Hy sê die owerhede kan nou verantwoording doen van alle passasiers wat op die snelweg gestrand was. Twee mense is dood nadat hulle in sneeu vasgekeer was. Buthelezi het inwoners versoek om veiligheid voorop te stel:
# Polisie het ‘n ondersoek en ‘n grootskaalse soektog van stapel gestuur nadat ‘n 23-jarige student verdwyn het. Hy is tans besig met ‘n nege-maande-lange Basiese Polisie-leerontwikkelingsprogram by die SAPD Tshwane Akademie in Pretoria. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê Tristan Chowles is Woensdag in ‘n hospitaal in Pretoria opgeneem en is Donderdag ontslaan. Sy sê die omstandighede rondom sy verdwyning word tans ondersoek en die polisie het sedertdien die maksimum hulpbronne gemobiliseer om Chowles te vind.
# Die adjunksekretaris-generaal van Hisbolla, Naim Qassem sê hulle konflik met Israel het nou ‘n grenslose vergeldingstryd geword. Gevegte tussen Israel en Hisbolla het die naweek toegeneem met beide kante wat oorgrens-aanvalle uitgevoer het. Verlede week is honderde beseer en tientalle gedood in gekoördineerde aanvalle wat Hisbolla-vegters se roepradios en tweerigtingradios laat ontplof het. Qassem sê Israel het oorlogsmisdade gepleeg en daarom is die stryd sonder perke.
# Gholf: Die Amerikaner Billy Horschel het ‘n drierigting-uitspeelwedstryd teen Rory McIlroy van Noord-Ierland en Suid-Afrika se Thriston Lawrence gewen om die PGA-kampioenskap by die Wentworth-klub in Engeland te wen. Al drie het 20 onder baansyfer in hul laaste rondes aangeteken. Lawrence het egter die uitspeelstryd verlaat met een oor baansyfer op die eerste putjie. Horschel, wat ‘n arend op die tweede uitspeelputjie aangeteken en die kampioenskap vir die tweede keer in drie jaar gewen het, sê hy is sprakeloos:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-40-sent teen die dollar, 19-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-333-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-619-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….