Nuus 09:00
BULLETIN 22 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ministerie van Vervoer vra motoriste om gehoor te gee met gure weerstoestande wat voortduur
# Die DA in die Oos-Kaap sê voortgesette finansiële wanbestuur by die Gesondheidsdepartement stel lewens in gevaar
# En, rugby: Argentinië stuit die Springbok-aanval
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, en haar adjunk, Mkhuleko Hlengwa, raai motoriste wat tussen die Vrystaat, Gauteng en KwaZulu-Natal wil reis aan om hul reise uit te stel. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê die N3-tolroete is die naweek getref deur swaar sneeu, veral tussen Warden en die Tugela Plaza in KwaZulu-Natal, wat reise uiters gevaarlik maak. Hy sê Creecy en Hlengwa ontvang gereelde verslae van die Padverkeersbestuurskorporasie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap oor die voortdurende reddingspogings wat deur staatsagentskappe en ander belanghebbendes gekoördineer word.
In KwaZulu-Natal vra die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, inwoners en motoriste om van die paaie af te bly en selfs alternatiewe roetes te vermy, aangesien gure weerstoestande na verwagting sal vererger. Hy sê provinsiale rampbestuurspanne werk saam met maatskaplike vennote om verligting te bring aan gemeenskappe wat geraak is. Buthelezi sê die swaar sneeuval het bome ook laat omval, wat die situasie verder bemoeilik:
# Die DA in die Oos-Kaap sê die voortdurende finansiële wanbestuur en wanadministrasie in die provinsiale Departement van Gesondheid stel lewens in gevaar en vereis vinnige en deurslaggewende optrede. Karl le Roux van die party sê twee mense het tragies gesterf weens die departement se versuim om hul rekeninge met Telkom te vereffen. Hy sê sonder drastiese en dringende verbeterings in die openbare gesondheidsektor sal die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering nie ingestel kan word nie:
# Honderde mense is na wat uit Mali berig word vermoedelik dood in verlede week se aanval deur ‘n Al-Kaïda-gekoppelde groep. Hospitale in die hoofstad Bamako sit blykbaar sonder genoeg beddens om die gewondes te behandel. Vegters van die Jama’at Nusrat al-Islam wa al-Muslimeen, het Dinsdag ‘n elite militêre polisie-opleidings-akademie en die nabygeleë lughawe aangeval. Diplomatieke en veiligheidsbronne het aan verslaggewers gesê die amptelike dodetal staan op meer as 70.
# En, rugby: Die Springbokke het gisteraand se Rugbykampioenskap-stryd met Argentinië met slegs een punt verloor, toe Los Pumas ‘n oorwinning van 29-28 in Santiago behaal het. Die losskakel, Tomos Albornoz, se strafdoel in die 68ste minuut het Argentinië laat wen, met die Springbok-losskakel, Manie Libbok, wat tien minute later ‘n skop gemis het wat die wedstryd sou beklink het. Vanjaar se toernooiwenner word dus Saterdag in Mbombela beslis. Argentinië het ook ‘n geskiedkundige Rugbykampioenskap-driekuns behaal deur vir die eerste keer Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika in dieselfde jaar te klop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….