Nuus 08:00
BULLETIN 22 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die N3-tolroete is heropen ná uitgebreide sneeu-ontwrigtings
# Die GOOD-party sê Kaapstad se burgemeester moet die stad se bande met bendes verduidelik
# En, rugby: Die Haaie lig die Curriebeker weer ná ses jaar
# Die N3-tolroete tussen KwaZulu-Natal en Gauteng is heropen nadat die swaar sneeuval verskeie motoriste in die Van Reenen-omgewing vasgekeer het. Sneeu het ook ontwrigting veroorsaak in ander provinsies. Die bedryfshoof van die N3 Tol-konsessie, Thania Dhoogra, bedank ramphulporganisasies, padvoorvalbestuurspanne, plaaslike boere en gemeenskapsverenigings wat nooddienste en noodsaaklike hulp aan gestrande motoriste verskaf het:
Die regering raai motoriste in verskeie provinsies intussen aan om hul reise te kanselleer tot die weerstoestande verbeter. Sinombulelo Mlisa van die Regeringskommunikasie- en inligtingstelsel sê hewige weerstoestande het swaar sneeu oor dele van Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap meegebring:
# Die GOOD party sê die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, moet die stad se bande met bendes verduidelik. Die sekretaris-generaal, Brett Herron, wil weet of die voormalige DA-burgemeesterskomiteelid, Malusi Booi, medepligtiges in die stad gehad het en of hy alleen opgetree het. Booi is vroeër hierdie maand in hegtenis geneem in verband met onwettige kontrakte ter waarde van sowat een-miljard-rand. Onder sy nege medebeskuldigdes is die beweerde leier van die 28’s-bende, Ralph Stanfield, en Stanfield se vrou, Nicole Johnson:
# Die minister van Gesondheid van Libanon, Firass Abiad, sê die dodetal ná ‘n Israelse lugaanval op ‘n voorstad van Beiroet het teen gister tot minstens 37 gestyg. Die sterftes sluit drie kinders en sewe vroue in. Die aanval Vrydag het byna 70 mense gewond. ‘n Senior VN-amptenaar, Rosemary Di Carlo, waarsku teen ‘n moontlike groot toename in geweld in die Midde-Ooste, wat vrese van ‘n algehele oorlog verskerp. Sy sê die streek verkeer in gevaar vir ‘n konflik wat die verwoesting wat reeds gesien word, ver kan oortref.
# En, rugby: Die Haaie se heelagter, Jordan Hendrikse, is die held van die span, met sy langafstand-strafdoel wat hulle die Leeus met 16-14 in die Curriebeker-eindstryd in Johannesburg help klop het. In koue en nat toestande het die Haaie ingehaal om die titel vir die eerste keer sedert 2018 te beklink. Die Leeus se voorspeler, Siba Qoma, het op die nippertjie ‘n drie gedruk om ‘n agterstand van 13-7 in ‘n voorsprong van een punt te verander. Maar Hendrikse, wat onlangs van die Leeus by die Haaie aangesluit het, het die laaste sê gehad met sy skop van byna 60 meter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….