Nuus 07:00
BULLETIN 21 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die korrupsiesaak teen Michael Lomas is uitgestel tot volgende week
# Die DA sê die onttrekking van die 200-miljard-rand kernkragplan is ‘n belangrike stap tot aanspreeklikheid
# En, rugby: ‘ n Opwindende Curriebeker-eindstryd word verwag
# Die Landdroshof in Kemptonpark het die korrupsiesaak teen die voormalige Eskom-kontrakteur, Michael Lomas, tot 27 September uitgestel. Lomas staar 65 aanklagte in die gesig wat verband hou met 1,4-miljard-rand. Dit was geoormerk vir die opgradering van Eskom se Kusile-kragstasie. Sy uitlewering vanuit die Verenigde Koninkryk het gevolg ná verskeie mislukte appèlle daarteen. Die Ondersoekdirektoraat se woordvoerder, Henry Mamothame, sê die ondersoek behels elf ander verdagtes, insluitend voormalige Eskom-bestuurders:
# Die DA sê die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, se onttrekking van die 200-miljard-rand-kernverkrygingsbepaling is ‘n reuse stap vir aanspreeklikheid. Die party het die besluit om twee-duisend-500 megawatt kernkrag aan te skaf, betwis, met verwysing na ‘n gebrek aan openbare raadpleging en deursigtigheid. Kevin Mileham van die DA sê hierdie stap verseker energieverkrygingsprosesse is aan streng ondersoeke onderhewig en handhaaf die beginsels van goeie bestuur:
# Die Departement van Binnelandse Sake sal van vandag af tot 12 Oktober Saterdae oop wees om matrieks by te staan. Hulle is oop van 8-uur tot 1-uur en dienste sluit in die uitreiking van tydelike identiteitsertifikate, ID-afhalings en aansoeke. Minister Leon Schreiber beklemtoon hierdie inisiatief sal leerders help om eksamen te skryf om ekonomiese bemagtiging te ontsluit. Ouers en matrieks word ook gevra om hulle ID’s te kom afhaal. Die adjunkminister, Njabulo Nzuza, sal vandag die kantoor in Orlando besoek om die inisiatief te steun.
# Rugby: Die Curriebekertoernooi sal vandag in Johannesburg ‘n opwindende einde bereik wanneer die Leeus en die Haaie mekaar die eerste sedert 2011 in die eindstryd pak. Die Hoëvelders gaan probeer om die gesogte trofee vir die eerste keer sedert 2015 in te palm. Dit is ook die eerste keer sedert 2021 dat die Durbaniete weer in ’n eindstryd speel. Hulle laaste oorwinning in ‘n Curriebeker-eindstryd was in 2018 toe hulle die Westelike Provinsie verslaan het. Afskop is vanmiddag om vier.
# En, die KwaZulu-Natalse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, het aangekondig rampbestuurspanne is op bystand in reaksie op die erge weerwaarskuwings oor die naweek. ‘n Vlak ses-sneeustorm word in die uThukela-, Harry Gwala- en uMgungundlovu-distrikte verwag. Senzelwe Mzila van die departement het inwoners aangeraai om onnodige reise te vermy en boere versoek om vee teen die koue te beskerm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….