Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Burgemeester Cilliers Brink beskuldig ActionSA van politieke verraad te midde van koalisie-onstuimigheid
# Die EFF sê die tariefverhoging in Kaapstad oorskry die Nersa-goedkeuring
# En, rugby: Werner Kok hoop om ‘n verskil by Ulster te maak
# Tshwane-burgemeester, Cilliers Brink, het ActionSA van politieke onbevoegdheid en verraad beskuldig nadat die party besluit het om die DA-geleide koalisie in die metro te verlaat. Hierdie skuif kan die ANC en EFF in staat stel om Brink volgende week met ‘n mosie van wantroue te ontsetel. Ten spyte van die onstuimigheid het die burgemeester die verbeterings in die stad se finansies uiteengesit en te midde van onstabiliteit homself tot diens aan inwoners verbind:
# Die EFF sê die DA-geleide regering in Kaapstad het goedgekeurde elektrisiteitstariefverhogings oorskry en ‘n verhoging van 17,6-persent ingestel in plaas van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika se verhoging van 15,1-persent. Die party voer aan Kaapstad se tariewe is hoër as die van ander munisipaliteite en het buitensporige winste tot gevolg. Nazier Paulsen van die EFF het tydens die Parlement se elektrisiteitsdebat gepraat en die stad se regstryd met Nersa gekritiseer. Hy waarsku verbruikers sal dalk die hoë koste van heffings dra indien die stad verloor:
# Die Skool vir Inligting en Digitale Tegnologie, MANCOSA, sê meer is nodig om die risiko’s weens tegnologiese vaardigheidstekorte in Suid-Afrika uit te wis. Nestene Botha van MANCOSA sê die tekort duur voort weens die dinamiese aard van kuberbedreigings, die stadige groei van die talent-pyplyn, asook kwesbaarheid weens menslike faktore.
# Mark Robinson, die Republikeinse Party se kandidaat in Noord-Carolina vir die goewerneurspos, beloof om in die wedloop te bly na CNN berig het hy het op ‘n keer na homself as ‘n “swart Nazi” verwys. Hy het glo ook voorgestel slawerny moet terugkeer in kommentaar wat op ‘n pornografie-webwerf geplaas is. Die Afro-Amerikaner, wat die opmerkings ontdek, neem aan die November-verkiesing in Noord-Carolina deel teen die Demokratiese kandidaat Josh Stein, die staat se prokureur-generaal. Robinson, wat deur Donald Trump gesteun word, het glo ‘n geskiedenis van opruiende opmerkings.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap skop hierdie naweek af met ses wedstryde. In een van die wedstryde sal Ulster gasheer wees vir die Glasgow Warriors. Ulster het nou ‘n nuwe Suid-Afrikaner in hul midde in die persoon van Werner Kok. Die Sharks-vleuel en voormalige Wêreldrugby-sewesspeler van die Jaar het ‘n tweejaarkontrak met die Ierse span gesluit. Die 31-jarige sê hy hoop om ‘n verskil by sy nuwe klub te maak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-49-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-893-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-610-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….