Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA verwelkom die uitlewering van ‘n voortvlugtige in die Kusile-bedrogsaak, Michael Lomas
# Die Vervoerdepartement in Limpopo waarsku oor swaar verkeer die naweek
# En, rugby: Werner Kok hoop om ‘n verskil by Ulster te maak
# OUTA het die uitlewering geloof van die voormalige Eskom-kontrakteur, Michael Lomas, wat gekoppel word aan die Kusile-bedrogsaak van 745-miljoen-rand. Interpol het hom uitgelewer en hy sal saam met voormalige Eskom-bestuurders en ander beskuldigdes teregstaan. Lomas, wat in 2021 in Brittanje in hegtenis geneem is, is borgtog van 1,7-miljoen-rand en ‘n bykomende sekerheidsborg van 4,3-miljoen-rand toegestaan. Rudie Heyneke van OUTA het aan eNCA gesê verantwoording moet seëvier:
# Die Departement van Vervoer in Limpopo waarsku teen swaar verkeer vanaf vandag deur die naweek weens die skoolvakansie. Die woordvoerder, Tidimalo Chuene, sê wetstoepassers sal langs die belangrike roetes ontplooi word om veiligheid te verseker en ‘n zero-verdraagsaamheidsbeleid oor roekelose bestuur af te dwing. Sy het motoriste versoek om hul voertuie se veiligheid na te gaan, veiligheidsgordels te dra en verantwoordelike bestuur te verbeter om te verseker almal kom veilig by hul bestemming:
# Afriforesight het beklemtoon hoe belangrik die handhawing van Suid-Afrika se platinumgroepmetale-sektor is, wat tot meer as 40-persent van mynbouverdienste bydra. Nathan Musson van Afriforesight het tydens ‘n webinaar gepraat oor die gevare rondom dalende kapitaalbelegging. Musson het die volgehoue vraag van die motorbedryf, waterstofbrandstoftegnologie en wêreldwye nywerheidsgroei uitgelig. Hy sê die sektore speel ‘n rol in die vermindering van uitstralings en ekonomiese bestendigheid te midde van geopolitieke spanning.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap skop hierdie naweek af met ses wedstryde. In een van die wedstryde sal Ulster gasheer wees vir die Glasgow Warriors. Ulster het nou ‘n nuwe Suid-Afrikaner in hul midde in die persoon van Werner Kok. Die Sharks-vleuel en voormalige Wêreldrugby-sewesspeler van die Jaar het ‘n tweejaarkontrak met die Ierse span gesluit. Die 31-jarige sê hy hoop om ‘n verskil by sy nuwe klub te maak:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-377-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-615-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-46-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Vrou van Bournemouth was geskok nadat sy ‘n boete van amper 12-duisend-rand vir onwettige storting gekry het. Isabelle Pepin het ‘n IKEA-kabinet voor haar huis gelos vir verbygangers om te vat. Ná vyf dae het ‘n raadsbeampte vir haar gesê dis ‘n probleem en sy het daarvan ontslae geraak. Drie weke later het sy ‘n boete ontvang, wat sy nou bevraagteken. Pepin het gesê sy ontvang oorweldigende steun van inwoners. Die manier wat sy gebruik het, word beskou as ‘n goeie manier om nuttige, ongewenste goedere te laat herwin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….