Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kabinet verwelkom die daling in jaarinflasie tot 4,4-persent in Augustus
# Saftu veroordeel die Reserwebank se voortgesette ‘bewapening van monetêre beleid teen werkersklas’
# En, krieket: Die Suid-Afrikaanse vroue beklink die T20-reeks teen Pakistan
# Die Kabinet verwelkom die daling in die jaarinflasiekoers tot 4,4-persent vir Augustus, ‘n daling vanaf 4,5-persent in Augustus. Dit verteenwoordig voortgesette verbetering met die verbruikersprysindeks wat sedert Maart vanjaar stelselmatig verbeter. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshaveni, het aan die media gesê hierdie positiewe neiging sal na verwagting verdere ekonomiese herstel ondersteun asook bekostigbaarheid vir huishoudings:
# Saftu het die Suid-Afrikaanse Reserwebank ten sterkste veroordeel vir wat hy noem die voortgesette bewapening van monetêre beleid teen die werkersklas, ten gunste van die bankiers om inflasie te beveg. Die federasie se woordvoerder, Mogoshadi Maserumule, sê sedert die bank se agtereenvolgende rentekoersverhogings vanaf November 2021, sukkel huishoudings om by te bly met hul skuldverpligtinge. Sy sê die primêre begunstigdes van die bank se kruistog teen inflasie, was die banke en hul uitvoerende personeel:
# Die Stad Kaapstad het die Wes-Kaapse Hooggeregshof se uitsettingsbevel om onwettige besetters by die Kasteel die Goeie Hoop in die middestad te verwyder, verwelkom. Die besetters het tot 17 Oktober tyd om die terrein te verlaat. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê die terrein is lank reeds vir die publiek ʼn bron van kommer en klagtes, terwyl misdaadvoorvalle ook gereeld daar plaasvind:
# Die polisie in die suide van Pakistan het ‘n verdagte in ‘n godslaster-saak tydens ‘n beweerde skietery met gewapende mans doodgeskiet. Die oënskynlike tweede onregmatige moord binne ‘n week is deur menseregtegroepe veroordeel. Die polisie het die vermoorde man geïdentifiseer as ‘n dokter van die Sindh-provinsie, Shah Nawaz. Hy het twee dae tevore gaan wegkruip nadat hy daarvan beskuldig is dat hy die profeet Mohammed beledig het en godslasterlike inhoud op sosiale media gedeel het. Volgens Pakistan se omstrede wette oor godslastering, kan enigeen wat skuldig bevind word, ter dood veroordeel word.
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse vroue het die T20-reeks teen Pakistan met 2-1 beklink met ʼn oortuigende oorwinning met agt paaltjies in Multan. Pakistan is ingestuur om te kolf nadat kaptein Laura Wolfaardt die loot gewen het en het 153 vir 5 aangeteken. Aanvangskolwer Tasmin Britz is gestonk vir ʼn nulletjie met die telling op drie. Wolvaardt en Anneke Bosch het daarna beheer geneem voor Bosch beseer uitgetree het op 46 met Suid-Afrika op 84 vir een. Annerie Dercksen het met ses viere en drie sesse die wenlopies behaal met nog nege balle oor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-486-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-608-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….