Nuus 11:00
BULLETIN 20 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê Eskom se tariefverhogings sal sukkelende huishoudings vernietig
# Raymond Parsons glo daar sal waarskynlik nou verdere rentekoersverlagings wees
# En, Donald Trump kritiseer Joodse Amerikaners wat nie vir hom stem nie
# ActionSA is gekant teen Eskom se voorgestelde tariefverhoging van 36,15-persent en waarsku dit sal sukkelende huishoudings ernstig benadeel. Hulle stel ‘n desentralisering van die energiemark voor en die versterking van munisipaliteite om die afhanklikheid van die nutsmaatskappy te verminder en kostes te verlaag. Malebo Kobe van ActionSA, het tydens ʼn parlementêre debat die Nasionale Energiereguleerder se besluit gekritiseer om Eskom toe te laat om ʼn bykomende agt-miljard-rand te verhaal, wat teen aanstaande jaar mag lei tot ʼn algehele verhoging van meer as 40-persent:
# Die langverwagte begin van die siklus van rentekoersverlagings deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank is goeie nuus vir sakeondernemings en verbruikers. Dit is die siening van professor Raymond Parsons van die Universiteit van Noordwes se Sake- en Bestuurskool. Die komitee het die terugkoopkoers met 25 basispunte tot agt-persent verlaag. Parsons sê die tydsberekening en die tempo van verdere rentekoersverlagings is nou meer waarskynlik as inflasievooruitsigte aanhou verbeter:
# Die EFF het ‘n beroep op die Parlement gedoen om ‘n ad hoc-komitee te stig om munisipaliteite en ondernemings te ondersoek wat versuim om tot pensioenfondse by te dra. Die EFF-lid, Sinawo Tambo, het op klagtes van vier-duisend werknemers gewys en beweer daar is agt-miljard-rand in onbetaalde bydraes. Die party wil hê die komitee moet die gesag hê om sake na die Nasionale Vervolgingsgesag en die Spesiale Ondersoekeenheid te verwys. Die mosie sal gedebatteer word wanneer die Parlement weer byeenkom.
# Die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, sê as hy die verkiesing in November verloor, sal Joodse kiesers baie daarmee te doen hê. Die Republikeinse Party-kandidaat het die opmerkings gemaak by die Israeli-Amerikaanse Raad se nasionale spitsberaad in Washington. ‘n Peiling deur Pew Research het bevind 69-persent van geregistreerde Joodse kiesers sê hulle steun die Demokrate, terwyl 29-persent sê hulle beskou hulleself as Republikeine. Trump voer aan hy was by verre nog die beste president vir die Joodse gemeenskap:
# Gholf: Spelers wat by die Saoedi-ondersteunde LIV-gholfliga aangesluit het, sal voortaan toegelaat word om aan die Ryderbeker en PGA-kampioenskap deel te neem. LIV-spelers sal nou lidmaatskap mag kry by die Amerikaanse PGA, dieselfde lidmaatskap wat spelers van die PGA-toer kry, asook dié van die DP World Tour en nege ander toernooie wêreldwyd. PGA Amerika sê die besluit om LIV by sy lys goedgekeurde toernooie te voeg, is om seker te maak die Amerikaanse Ryderbeker-span het steeds toegang tot die beste Amerikaanse spelers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-805-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-605-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….