Nuus 09:00
BULLETIN 20 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die rentekoersverlaging is ‘n positiewe stap
# Koning Misuzulu KaZwelithini is bekommerd oor sy veiligheid
# En Amerika waarsku teen ‘n toename in geweld ná die aanvalle in Libanon
# ActionSA het die verlaging van die terugkoopkoers deur die Monetêre Beleidskomitee van die Suid-Afrikaanse Reserwebank tot agt persent verwelkom. Die koersverlaging is allerweë verwag na die Amerikaanse Reserwebank sy koers met 50-basispunte verlaag het. Alan Beesley van ActionSA, sê hoewel dit ‘n positiewe stap is, is daar ruimte vir fermer optrede, veral as die ernstige finansiële druk op huishoudings in ag geneem word:
Die GOOD-party het ook die rentekoersverlaging verwelkom en sê dit sal verligting bring vir verbruikers wat gebuk gaan onder hoë skuldvlakke en hoë rentekoerse. Die terugkoopkoers is vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie in 2020 met 25 basispunte verlaag tot agt-persent. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Suid-Afrikaners wat diep in die skuld is, het jare lank deurgeloop onder verhoogde en hoë rentekoerse:
# Die Zoeloe-koning, Misuzulu KaZwelithini glo sy veiligheid word bedreig en het ‘n skriftelike versoek aan die minister van Polisie, Senzo Mchunu, gerig vir ‘n dringende vergadering. Volgens News24 het KaZwelithini versoek dat ‘n lid van die Presidensiële Beskermingsdiens wat aan hom toegewys is, weens veiligheidsredes uit sy pos onttrek word. Hy sê hy is ongemaklik om die beampte by hom en in sy koninklike huishouding te hê, maar hy het nie redes verskaf nie. Mchunu se kantoor het die ontvangs van die koning se brief.
# Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake is verbind tot die verdediging van Israel teen terroriste-organisasies wat Hamas, Hisbolla en ander Iranse groepe insluit. Minstens 37 mense is dood en byna drie-duisend beseer in ‘n vlaag van ontploffings in Libanon in ‘n aanval wat Hisbolla se roepradio’s en tweerigtingradio’s geteiken het. Die verklaring van Amerika volg na die Israelse Departement van Verdediging ‘n nuwe fase in die oorlog aangekondig het. ‘n Woordvoerder van die departement sê hulle wil nie hê enige party moet die konflik eskaleer nie:
# Sokker: Die vyfmalige kampioene, Barcelona, het hulle Kampioeneliga-veldtog met ‘n twee-een-oorwinning teen Monaco afgeskop. Hulle het die grootste deel van die wedstryd met tien manne gespeel nadat die verdediger, Eric Garcia, vroeg ʼn rooi kaart gekry het. Arsenal en Atalanta se kragmeting het sonder doele gelykop geëindig terwyl Atletico Madrid se doel in die 90ste minuut hom ʼn twee-een-sege teen RB Leipzig besorg het. Bayer Leverkusen het hulle terugkeer na Europa se topklub-kompetisie met ʼn vier-nul-oorwinning teen Feyenoord gevier. Brest het hulle heel eerste Kampioeneliga-kragmeting op ʼn wen-noot begin en Sturm Graz met twee-een verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-811-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-592-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….