Nuus 07:00
BULLETIN 20 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die regering van nasionale eenheid is verantwoordelik vir die ekonomiese herstel
# BOSA sê die rentekoers moes lankal gedaal het
# En Israel onderneem om voort te gaan met sy militêre optrede teen Hisbolla in Libanon
# Die DA verwelkom die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om rentekoerse te verlaag, en sê dit moet beskou word as ‘n geleentheid om die ekonomie weer op dreef te kry. Die sentrale bank se monetêre beleidskomitee het die terugkoopkoers met 25 basispunte verlaag wat die eerste daling in vier jaar is. Die koers daal tot agt-persent terwyl banke die prima uitleenkoers tot 11,5-persent sal aanpas. Die DA sê al is daar globale faktore ter sprake, moet Suid-Afrikaners erkenning gee aan die positiewe uitwerking van die regering van nasionale eenheid se beleidsagenda waartoe dié party ʼn belangrike bydrae lewer.
Build One South Africa sê intussen die rentekoers moes lankal gedaal het. Bosa-woordvoerder Roger Solomons sê indien rentekoerse dieselfde gebly het, sou dit Suid-Afrikaanse huishoudings finansieel verder benadeel het. Hy sê meer ingryping is nodig:
# Sommige Suid-Afrikaanse metro’s sal na verwagting binne die volgende drie tot vyf jaar begrotingsbesnoeiings in die gesig staar. Die besnoeiings is die gevolg van Sensus 2022 wat aantoon daar is 1,6-miljoen minder huishoudings as wat Statistieke Suid-Afrika aanvanklik beraam het. Hiervolgens verwag Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap ʼn besnoeiing van 30-persent. Gauteng en Noordwes verwag ook besnoeiings in hulle begrotingsaandeel wat gekoppel is aan die bevolkingsgetalle van dieselfde sensus. Kaapstad en Buffalo City is die enige munisipaliteite wat nie geraak sal word nie.
# Die ACDP sal vanoggend betoog om Suid-Afrika se soewereiniteit teen globale politieke inmenging te verdedig. Die betoging sal vanaf 9-uur buite die Uniegebou in Pretoria plaasvind. Die party doen ‘n beroep vir openbare steun om nasionale outonomie teen eksterne politieke druk te beskerm.
# Die Israelse Weermag sê hy is besig om Hisbolla se infrastruktuur en vermoë om terrorisme te pleeg, in Libanon te verswak. Meer as 30 mense is vroeër die week in Libanon dood toe roepradio’s en tweerigtingradio’s wat aan lede van die groep behoort, ontplof het. Israel het gister lugaanvalle in die suide van Libanon uitgevoer. Die weermag sê Hisbolla het dekades lank huishoudings bewapen, tonnels gegrawe en burgerlikes as menslike skilde gebruik om die suide van Libanon in ʼn oorlogsone te omskep. Hy voeg by militêre optrede teen Hisbolla sal voortgaan.
# Krieket: Die veelsydige Protea-speler, Wiaan Mulder, sê hulle geskiedkundige nederlaag teen Afghanistan in die eerste internasionale eendagwedstryd in Sharjah, was pynlik en hulle moet beter doen. Hy het Woensdag met 52 die grootste bydrae gelewer tot Suid-Afrika se totaal van 106, maar Afghanistan het hulle met ses paaltjies afgeransel. Die tweede eendagwedstryd vind vandag plaas. Mulder sê hulle moet beter planne beraam teen Afghanistan se jong wegbreekbouler, Allah Mohammed Ghafanzar, wat drie paaltjies platgetrek het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-991-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-589-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….