Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank verlaag die terugkoopkoers met 25 basispunte
# Gauteng het 45 onvoltooide infrastruktuur-projekte van miljoene rand
# En, rugby: Die Haaie maak twee veranderings vir die Curriebeker-eindstryd
# Die Reserwebank het die terugkoopkoers met 25-basispunte verlaag. Dit beteken die terugkoopkoers is nou laer op 8-persent. Banke sal die prima uitleenkoers tot 11-komma-25-persent verlaag. Die aankondiging volg op die besluit van die Amerikaanse Reserwebank om rentekoerse met 50 basispunte te verlaag. Dit kom ‘n dag nadat aangekondig is plaaslike inflasie vir Augustus was 4,4-persent, laer as die teiken van die Reserwebank van 4,5-persent. Die president van die Reserwebank Lesetja Kganyago het die nuus gedeel:
# Die Gautengse regering het tans 45 onvoltooide infrastruktuur-projekte van miljoene rand elk. Dit sluit projekte in wat vertraag word of nie die sperdatum gehaal het nie. Dit is volgens die provinsiale tesourie se voorlegging aan lede van die Nasionale Raad van Provinsies. Van hierdie projekte is 24 tans in die proses om voltooi te word terwyl vyf nog in die beplanningsfase is. Die res is voltooi, maar wag op besettingsertifikate. Die provinsiale regering het 12,7-miljard-rand geoormerk om infrastruktuurprobleme op te los.
# Die Stad Kaapstad vra leerders om met die oog op die naderende matriekeksamen biblioteekstudiegidse verantwoordelik te gebruik. Gemeenskappe word ook gevra om leerders tydens die senutergende eksamentydperk te ondersteun en ‘n bevorderlike omgewing vir studie te skep. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê hoewel hierdie hulpbronne vir uitleen beskikbaar is, lei die aanvraag dikwels tot korter uitleentydperke:
# Verskeie vroue het die Egiptiese miljardêr Mohamed Al-Fayed van verkragting en seksuele aanranding beskuldig. Hy was die eienaar van die luukse Londense afdelingswinkel Harrods waar hulle gewerk het. Die bewerings, wat in ‘n BBC-dokumentêr en internetuitsending gemaak is, is die jongste teen invloedryke persoonlikhede, sedert die begin van die #MeToo-beweging in 2017. Fayed is verlede jaar op 94 oorlede. Meer as 20 vroue het met die BBC gepraat as deel van ‘n spesiale ondersoek na bewerings van aanranding en fisieke geweld by eiendomme in Londen en Parys.
# Rugby: Die Haaie gaan Saterdag se Curriebeker-eindstryd teen die Leeus in Johannesburg met kontinuïteit in sy spankeuse asook met momentum en selfvertroue tegemoet. Agt onoorwonne wedstryde, waaronder ‘n oorwinning oor die Leeus einde Julie, plaas die span van Durban in ‘n perfekte posisie vir die eindstryd. Die hoofafrigter, John Plumtree, het verlede week se span grootliks dieselfde gehou met net twee veranderings. Emmanuel Tshituka sal Phepsi Buthelezi as agsteman vervang, met Jurenzo Julius terug op buitesenter om saam met die Springbok André Esterhuizen die middelveld te beman.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-242-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-574-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….