Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 September
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Vernuwende vennootskap tussen Life Healthcare en die voorste verenigings in die mediese sektor het ʼn virtuele platform bekendgestel. Die doel is om nagraadse mediese studente te ondersteun terwyl hulle voorberei vir hul eksamen om mediese spesialiste te word. Die platform, Learn@CMSA, sal die kandidate ondersteun, kennisvlakke in die mediese en tandartsberoep ondersteun, en uiteindelik bydra om alle Suid-Afrikaners se gesondheid te bevorder. Life Healthcare se uitvoerende hoof, Peter Wharton-Hood, sê dis ʼn belegging in die ontwikkeling van spesialiste en dokters se mediese kennis wanneer hulle loopbane afskop.
# Die Universiteit van Pretoria sê sy nuwe opleidings- en vaardigheidsontwikkelingsprojek vir kleinskaal veeboere help hulle en dra by tot voedselsekerheid. Die drie-jaar-projek verskaf opleiding aan voorheen-benadeelde kleinskaal veeboere in die gemeenskappe rondom mynboubedrywighede in die Tswaing- en JM Marks-munisipaliteite in Noordwes, en die Fetakgomo Tubatse-plaaslike owerheid in Limpopo. Die universiteit sê die projek help ook met bio-sekerheid en stel die Nasionale Landbou- en Agri-prosesseringsmeesterplan in werking.
# Kaapstad se Mount Nelson, ook bekend as Die Nellie of Pink Lady, het die lys van die wêreld se 50 beste hotelle gehaal. Die hotel wat 28ste is, lok paartjies na die Planet Bar, gesinne na die swembad en alle generasies vir middagtee. Capella Bangkok is boaan die lys terwyl verlede jaar se wenner, Passalacqua van Italië nou tweede is. Rosewood Hong Kong is derde terwyl Cheval Blanc in Parys tot die vierde plek geklim het. The Upper House in Hongkong is vyfde.
# Die Suid-Afrikaanse rolprent, Don’t Let’s Go to the Dogs Tonight, het groot lof by die Toronto-filmfees ontvang. Die rolprent handel oor die verhaal van ‘n jong meisie wat in die 1980s in Zimbabwe, destyds Rhodesië, grootword, met die oorgang van ‘n wit regering ná die bereiking van onafhanklikheid. Die rolprent is die Amerikaans-Suid-Afrikaanse akteur, Embeth Davidtz, se debuut as regisseur. Die media-persoonlikheid, Anele Madoda wat een van die vervaardigers is, sê dit was baie spesiaal om die rolprent op die wêreldverhoog ten toon te stel.
# En, die prinses van Wallis het haar eerste vergadering gehou sedert sy onthul het haar chemoterapie-behandeling is voltooi. Die 42-jarige Katherine se eerste afspraak was ‘n vergadering by Windsor-kasteel. Kate het verlede week in ‘n diep persoonlike videoboodskap die jongste oor haar gesondheid met die publiek gedeel. Sy sê die afgelope nege maande was uitdagend, maar sy sien daarna uit om weer by die werk te wees. Kate het sedert Februarie chemoterapie ontvang vir ‘n onbekende vorm van kanker. Sy sal vir die res van die jaar ‘n ligte werksprogram volg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….