Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 September 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku teen beduidende weerveranderings hierdie naweek. ‘n Lente-afsnylaagtepunt sal koue, nat en winderige toestande veroorsaak en in die suidelike en oostelike dele van die land word sneeu verwag. KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, die Vrystaat en Gauteng gaan ‘n dramatiese verskuiwing ervaar ná ‘n onlangse hittegolf. Die publiek en boere word versoek om voor te berei vir ongunstige toestande aangesien temperature vanaf vandag aansienlik sal daal.
# Die adjunkminister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, sê groenwaterstof-ekonomie-projekte het meer as 800-miljard-rand in beleggings gelok. Hy het tydens die Green Hydrogen konferensie in Sandton gepraat en sleutelinisiatiewe uitgelig, insluitend groenwaterstof- en ammoniakproduksiefasiliteite in verskeie provinsies. Zikalala het samewerking aangemoedig om plaaslike vervaardiging en ontwikkeling van groenwaterstofinfrastruktuur uit te brei, met die doel om teen 2050 jaarliks tot 13-miljoen ton groen waterstof te vervaardig:
# En, ‘n elektriese motorfiets wat in Afrika gebou is en slegs deur sonkrag aangedryf word, gaan volgende maand die lang pad van Nairobi in Kenia na Stellenbosch in die Wes-Kaap aanpak. Navorsers van die Universiteit van Stellenbosch het kragte saamgesnoer met Roam, ‘n tegnologiemaatskappy in Nairobi wat elektriese voertuie vervaardig om die Roam Air te toets. Die motorfiets gaan sowat ses-duisend-kilometer aflê met slegs sonkrag as energiebron. ‘n Doktorsgraad-kandidaat en mede-navorser van die projek, Stephan Lacock, gaan saam met Masa Kituyi op die fiets ry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….